Local newsNewsNews

Nuwe hoof vir Hoekies

'n Nuwe opwindende hoofstuk wink vir HS Driehoek

VANDERBIJLPARK – ‘n Skoolhoof se kantoor is gewoonlik ‘nintimiderende plek.

Maar dit is beslis nie die gevoel wat jou aan die kraag beetkry wanneer jy by die 49-jarige Stefan Schoeman se kantoor instap nie. Soos dit ‘n hoof betaam kan jy hom deur ‘n ring trek.

Hy groet beleefd en beduie na die twee rusbanke wat digby sy lessenaar staan. Mens voel onmiddelik tuis in sy teenwoordigheid. So dis nou die HS Driehoek se nuwe hoof. Mens kom vinnig agter dat hy gemaklik
in sy eie vel is.

‘n Denker en ‘n omgeemens, wat na 27 jaar se toewyding in die onderwys die vrugte van sy arbeid pluk. “Om ‘n skoolhoof te word was ‘n doelwit van my.

Maar nie vir die status of mag nie. Mens het trappies in jou eie persoonlike ontwikkeling en loopbaan wat jy wil klim.

Ek wil net ‘n verskil maak en gelukkig wees in my werk. Ek is ‘n rustige mens van geaardheid en hou daarvan om goed oor dinge na te dink,” vertel hy.

Dit is miskien ‘n goeie ding want enige skoolhoof sal getuig dat hulle gereeld die wysheid van Salomo begeer.

“Soos ‘n mens opbeweeg raak die prentjie wyer. Mens sien dinge anders. Alles is nie altyd swart en wit nie.

Mens moet baie dinge in ag neem en daar word soms harde en moeilike besluite geneem, maar die groot oorweging moes altyd wees, wat is die beste vir die skool, personeel en die kinders.”

Vrydag, 1 November was sy eerste dag aan stuur van sake. Hoewel hy ‘n rooitapytverwelkoming gekry het, was die hoogtepunt van die dag toe hy die kinders begin ontmoet het.

“Ek het daarna tuis gevoel,” bieg hy. Dis immers sy Alma Mater waar hy in 1993 gematrikuleer het. Volgens hom bly die dinamika van ‘n skool dieselfde, maar hy is nie iemand wat daarvan hou om grootskaalse veranderinge aan te bring nie.

“Mens moet kyk wat werk en daarop voortbou en verbetering aanbring waar dit nodig is. ‘n Hoof bestuur net sake. Ek wil inskakel by die bestaande kultuur en dit versterk.

Dit gaan vir my oor die span. Dis vir my belangrik om ‘n lekker werksomgewing vir die kinders en personeel te skep waarin hulle gemaklik en goed oor hulself kan voel.

As hulle nie geestelik op ‘n goeie plek is nie kan mens nie presteer nie. Dit veroorsaak ‘n rippeleffek,” gee hy te kenne.

Volgens die Vaaldriehoeker glo hy in ‘n holistiese benadering en ‘n gebalanseerde jong volwassene die grootmenswêreld in te stuur.

“Akademie, sport en kultuur is vir my
ewe belangrik. Deelname is baie belangrik. Al ondersteun jy net iemand of ‘n span.

Mens bou baie memories op hoërskool. As mens in sport verloor maak dit nie van jou ‘n slegte mens nie. Mens moet leer om te
verloor.

Mens kan verloor en steeds klein seges ervaar, omdat jy sekere doelwitte binne die span bereik het. Mens moet nooit die liefde vir iets doodmaak nie. Ek sien baie uit na die uitdagings wat vir ons voorlê,”
sluit hy af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button