Botsing teen boom eis oud-hoofseun
Lynyrd se gedenkdiens is verlede Donderdag by Lion's Creek in Midvaal gehou.
MEYERTON. – ‘n Voormalige hoofseun van Destinata-skool, Lynyrd Vreugde (25), se blink toekoms is op 25 Oktober tragies kortgeknip toe die voertuig wat hy bestuur het, teen ‘n boom gebots en hy op slag gesterf het.
Sy vriendin, ‘n matriekleerling van die Hoërskool Dr. Malan, het inwendige beserings in die botsing opgedoen. Sy is aanvanklik in ‘n plaaslike hospitaal behandel maar sterk nou tuis aan. Haar familie is nog te ontsteld om met die media te praat en het versoek dat sy nie in die koerant geïdentifiseer word nie.
Volgens Lynyrd se ma, mev. Karin Vreugde, was hy en ‘n groepie vriende die Vrydagaand in aparte voertuie uit Meyerton onderweg na haar huis in Risiville toe hy vermoedelik naby die laaste draai voor die treinspoor beheer oor die voertuig, ‘n Honda Jazz, verloor het. Die voertuig het van die pad af geloop en teen ‘n boom tot stillstand gekom. Hoewel Lynyrd sy veiligheidsgordel aangehad het, is hy noodlottig beseer.
“My jonger seun was in die voertuig agter Lynyrd en het alles gesien gebeur,” sê Karin. Die gesin ontvang berading om die trauma te probeer verwerk.
Lynyrd is in 1999 in die Midvaal-Hospitaal gebore en het in Risiville grootgeword. Hy was die grootste deel van sy skooljare in Destinata, waar hy as hoofseun gematrikuleer en in 2017 rugby vir die o/18 Goue Leeus in die LSOB Cravenweek gespeel het.
“Akademies het niks ooit maklik in sy skoot geval nie, maar hy was baie goed met sy hande en baie kreatief. Ek is hartseer dat hy nie tyd gehad het om dit verder te ontdek nie,” sê Karin.
Hy het na skool by Solidariteit se Sol-Tech Beroepsopleidingskollege studeer en later as dieselwerktuigkundige by High Lift Solutions in Boksburg aangesluit. Naweke het hy steeds by sy gesin in die Vaaldriehoek kom kuier.
“My Lynyrd-kind was die stoutgat op skool. Ek het jare na die tyd gehoor wat hy alles aangevang het. Hy het sy lewe definitief voluit geleef. Hy was gek oor visvang en was ‘n absolute petrolhead. Hy het ‘n diepte in hom gehad wat hy nie altyd vir almal gewys het nie, maar ek was bevoorreg om daardie kant van hom te ken,” sê sy ma. “Ek gaan sy kuiertjies, grappies, tergery en oproepe mis… en sy spesiale, stywe mammadrukkies.”
Lynyrd se gedenkdiens is verlede Donderdag by Lion’s Creek in Midvaal gehou. Hy word buiten sy ma oorleef deur sy pa, mnr. Eugene Vreugde, en ‘n jonger broer, Jean.