Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Amper word ek ‘n grenshou

Glimlag 'n slag. RUBRIEK- Dit kan gevaarlik raak met kamera in hand op die krieketveld.

RUBRIEK- Die naweek is ek aan diens. Twee krieketwedstryde op die spyskaart. ‘n Klubwedstryd Saterdag en junior liga Sondag. My senuwees knaag.

Anders as my kollegas met hul grand toerusting en passie vir fotografie, is ek gemakliker met notaboek en pen in die hand.

Saterdagmiddag sluip ek by Cecil Oldridge Park in. Gaan staan eers stil om alles te besigtig. Dis ‘n T20, maar almal het wit aan.

Ugh. Weet hul nie mens moet verskillende kleure aan hê nie? Waag dit uiteindelik om met die jongman naaste aan my te praat.

“Vanderbijlpark kolf nou?” “Dis Vanderbijlpark 1,” kry ek antwoord. “Nee, ons kolf nou. Ons is die Ratels.”

“Dankie,” sê ek, en onthou êrens het ek ‘n Ratel se foonnommer. Sal help om later info te kry. Nou moet ek foto’s neem.

Onder ‘n groot koelteboom staan ‘n sementbankie. Ongelukkig is daar nie ‘n manier wat ek enige speler afgeneem gaan kry vandaar af nie.

Nie eers met my kamera se langer lens op nie. “As die bal my tref, sê vir my Ma ek het dapper gesterf,” seg ek in die rigting van ‘n paar mense wat onder die boom ontspan.

Hulle beloof plegtig, al het hul geen idee wie is ek of my ma nie. Eers hou ek agter die lyn, maar die spelers bly te ver deur die lens. Die son brand van bo.

Ek konsentreer op die kolwer. Dalk, net dalk, sien ek hoe ‘n paaltjie spat. Ek gee nog ‘n tree of wat die binneveld in.

Kyk rond of iemand my van die veld af gaan jaag. Besluit om ‘n ander hoek te probeer en vind stadig maar seker my weg om meer in lyn met die paaltjies te kom.

Alles gaan goed, totdat ek besef die rooibal is nou direk op pad na my toe! Selfde oomblik hoor ek ‘n groot gedruis. Die aarde bewe. ‘n Veldwerker op volle vaart peil op my af.

Sy missie is om ‘n grenshou te keer, myne om uit die pad te kom. Ek two-step betyds na regs, en die man kry voorwaar gestop, die bal opgeraap en teruggegooi sonder om sy balans te verloor. Wonder of hy my ooit daar sien staan het?

Al wat ek weet is dat dit veel veiliger en gemakliker is om krieket vanuit die gerief van ‘n sitkamer op die kassie te kyk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button