Ons eie beskuit koningin doen dinge anders
Maak nader kennis met die Vaal se beskuit koningin, Geneviéve Cillié
VEREENIGING – Die beoordelaars van RSG en Virseker se Bakgat-beskuitproe weet nou wat Geneviéve Cillié se ondersteuners al lankal weet. Sy kan beskuit bak!
Sy het ‘n derde plek behaal uit 1510 inskrywings in SA se eerste beskuitproe kompetisie.
Dit het alles 10 jaar gelede begin toe sy en ‘n vriendin besluit het om cupcakes te bak en te verkoop. Dit het heel goed gegaan totdat haar vriendin ‘n ander werk gekry het.

Geneviéve het besluit om aan te hou bak, maar het haar visier op groot koeke ingestel. Ook dit was ‘n sukses en sy het onder andere troukoeke gebak.
Nadat sy getrou het en ma van twee geword het, het sy haar passie vir bak vir eers op die rak gebêre. Net totdat die kleingoed so ‘n rapsie groter was.
“Ek het nog altyd daarvan gehou om dinge anders te doen. Ek wou steeds bak, maar het besluit om biscotti te probeer. Dis Italiaanse beskuit,” vertel sy.
Die keer het sy haar onderneming ‘n naam gegee, Bietjie iets anders en haar eerste baksel white chocolate & cranberry verkoop. Dit was dadelik ‘n treffer. V
andag is daar verskeie soorte beskuit, van gesondheid tot by ‘n dark chocolate & stout biscotti te koop.
Oor die groot Bakgat-beskuitproe kompetisie is sy steeds verras.
“Ek het van die kompetisie gehoor en besluit om die kans te vat. Dis die eerste keer wat ek vir ‘n kompetisie ingeskryf het en my senuwees was gedaan.
“Ek wou eintlik net onder die top 72 beland, maar toe ek hoor ek is deel van die top vyf was ek oorstelp. Dis vir my ‘n mylpaal en ek is trots dat ek dit bereik het,” vertel sy.
Vir die finale rondte moes elke finalis weer presies dieselfde beskuit bak en na Virseker se kantore in Midrand neem op 13 November.
Daar het ‘n nuwe paneel beoordelaars die beskuit geproe en die wenners is tydens ‘n regstreekse uitsending aangekondig.
