Local newsNewsNews

Alternatiewe heelal of nostalgie, wie weet?

Die 80's het vir een of ander rede 'n groot aantrekkingskrag vir alle ouderdomme

As oranje die nuwe swart is, is retro seker die nuwe nuut.

Die afgelope dekade het die aanvraag vir retro produkte die hoogte
ingeskiet.

Van Atari-videospeletjies tot langspeelplate (LPs) is van die mees gesogte produkte en selfbederf items.

Die groot dryfkrag agter dit is nostalgie, ‘n hernude waardering vir die musiekformaat asook die toename in die getal versamelaars.

Die nuwe bloeitydperk vir ondermeer LPs het in 2008 begin en in 2022 is daar in die Verenigde State van Amerika 41 miljoen eenhede verkoop wat vir die
eerste keer sedert 1987 die verkope van Kompaklaserskywe (CD’s) verbygesteek het.

Gewoonlik was die voorvereistes om nostalgies te raak dat jy in jou laat
middelveertigs moet wees, maar deesdae is alles mos kits.
Vra maar vir tieners op sosiale media wat na musiek van 2010 as
oldies verwys.

As lid van Gen X-generasie soos daar na ons sterflinge verwys word wat in
die 1970’s gebore is, is daar ‘n ongekende fasinasie met die
80’s.

Niks vreemd nie sal mens dink. Diegene wat van samesweringsteorieë hou sal hierdie geniet.

By nadere ondersoek blyk dit dat die Mandela-effek, vernoem na die wydverspreide valse herinnering aan Nelson Mandela wat in die 1980’s in die tronk gesterf het, ‘n deurslaggewende rol speel in die 1988-anomalie-teorie.

Madiba het inderdaad in 2013 gesterf. Hierdie verskynsel vind plaas wanneer ‘n groot groep mense gesamentlik ‘n spesifieke feit of gebeurtenis
verkeerd onthou.

Logos, historiese feite (onder andere Harry Houdini se dood, die sluipmoord op JFK en Mona Lisa se glimlag) vorm deel van die bespiegelings.

‘n Gideonsbende op die internet wat in hierdie anomalie-teorie glo, beweer dat ‘n katastrofiese gebeurtenis die wêreld in die 80’s uitgewis het en dat die heelal geskarrel het om die tydlyn reg te stel.

Die nuwe realiteit wat geskep is, is glo die oorsaak dat soveel
mense die Mandela-effek ervaar en dat ons kollektiewe bewussyn teenstrydighede voor en na 1980 probeer versoen.

Dis waarom hulle glo dat die wat die anomalie “oorleef” het, na die 1980’s
hunker.

Dis glo ook waarom nuwe generasies ‘n intense konneksie met die 80’s se musiek en populêre kultuur ervaar wat hulle nie kan verduidelik nie.

Net soos met plataarde-teorie en ander belaglikhede stel die uwe nie werklik in defnitiewe antwoorde belang nie.

Al wat ek weet is dat die beste flieks en musiek sy oorsprong in die 80’s gehad het.

My motto is spook en spartel in die hede en geniet die verlede. Goeie memories is al wat ons het.

Al is dit miskien nie waar nie!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button