Brugpad nou veiliger danksy Proudly Vaalpark
Lede van die organisasie het die stormwater-afvoerstelsel se blokkasie oopgemaak nadat dit tydens reënbuite gevaarlik baie water op die brug laat versamel het.
VAALPARK. – ‘n Gemeenskap wat saamstaan en saam wérk kan berge versit. Hiervan is Proudly Vaalpark ‘n sprekende bewys. Danksy lede van dié organisasie is Vaalpark steeds een van die netjiesste woongebiede in die Metsimaholo-munisipaliteit.
Proudly Vaalpark is veral berokke by die sny van gras op middelmannetjies en parke, en met die gemeenskap se ondersteuning word slaggate in hul belangrikste paaie ook gereeld opgevul.
Die lede se werk is egter nie net tot hul eie woongebied beperk nie. Flukse lede het verlede naweek ‘n blokkasie in die stormwater-afvoerstelsel langs die R57-brug oor die Vaalrivier tussen Vanderbijlpark en Sasolburg (digby Stonehaven, rigting Vaalpark) oopgemaak.
“Dié verstopping het ‘n baie gevaarlike situasie vir alle motoriste ingehou omdat daar tydens reënbuie ‘n massa-ophoping van water op die brug ontstaan het. Die area is nou skoongemaak en veilig – nie net vir Vaalparkse motoriste nie, maar vir almal wat dié pad gereeld gebruik,” sê mnr. Joseph Meyer, voorsitter van Proudly Vaalpark.
* Proudly Vaalpark se algemene jaarvergadering word Donderdag, 28 November om 18:00 by die AGS-gemeente op die hoek van President Swart- en Tafelbergstraat, Vaalpark gehou. Inwoners van Vaalpark is baie welkom. Kennisgewing van u beplande teenwoordigheid is egter noodsaaklik en kan gereël word by 083 383 2310 of per e-pos by proudlyvaalpark@gmail.com


