Groot musiektoekenning na stembandverlamming
Charlie Dicks bekoor steeds met haar sang na 42 jaar in die musiekbedryf.
VANDERBIJLPARK – Charlie Dicks het in 1982 die trefferparades getref met haar Country musiek.
Meer as vier dekades later is sy onlangs by die SA Country Music Association/Foundation (SACMAF) se toekenningsaand beloon met ‘n Legend Lifetime Achievement toekenning.

“Dit was ‘n groot verrassing vir my,” vertel Charlie met ‘n glimlag. Sy het oor die jare al vele albums uitgegee in beide Country en geestelike musiek genres.
Een van haar hoogtepunte was toe sy die geleentheid gehad het om met die draai van die eeu in die Seychelles op te tree.
“Ek het twee weke saam met van hul plaaslike kunstenaars opgetree voor internasionale gehore. Dit was regtig lekker en ‘n voorreg.”
Baie van haar aanhangers ken haar as ‘n Country sanger. Vir ander is sy weer die een wat geestelike musiek sing.
“Ek het 2002 my eerste geestelike album uitgebring. Dit het nie beteken dat ek opgehou het om Country te sing nie. ‘n Mens is mos ‘n Christen in elke faset van jou lewe.”
Sy en haar man André is ‘n goeie span en hy verstaan al die nuwe tegnologie om albums uit te bring op die sosiale kanale.
Dinge het goed gegaan, tot daardie oggend in Januarie 2016. Die dag is hul deur drie mans in hul huis oorval.
“Ek was alleen en André was in ‘n ander gedeelte van die huis. Ek onthou ek het net begin skreeu en terug baklei. Hulle het my aanmekaar geslaan. Ek het op ‘n stadium een geskop waar dit saak maak.”
André het intussen die rumoer gehoor en ondersoek ingestel. Hy het twee mans sien weghardloop en is agterna.
“Ek het nie besef daar is ‘n derde nie en hy het my oor die kop geslaan,” onthou hy.
Charlie het flou geword en haar aanvaller het vir oulaas op haar nek getrap, seker om seker te maak sy is dood.
“Sy skoen se merke het vir maande op my nek gesit,” skud sy haar kop oor daardie vreeslike dag. Wonder bo wonder is niks gesteel nie.
Die drie mans en hul tuinwerker is byna onmiddellik vasgetrek en uiteindelik gevonnis. Maar, vir Charlie het daar jare se worsteling en behandeling voorgelê.
“My stem het hees gebly en ek kon skaars praat. Ek is terug dokter toe en is na ‘n spesialis verwys. Op 29 Februarie daardie jaar is ons na ‘n stembande spesialis in Pretoria.
Hy het toetse en ‘n skandering gedoen en my die verskriklike nuus gegee dat ‘n senuwee agter in my nek beskadig is en dat ek stembandverlamming het.”
Die trane loop as sy vertel hoe die diagnose haar wêreld tot stilstand geruk het, want “musiek is my lewe.”
Gelukkig het André nooit moed opgegee nie. Hy het uiteindelik ‘n stemterapeut in die Kaap opgespoor wat nou saam met Charlie gewerk het sodat sy weer kon leer sing.
Dit het jare geneem. Vandag is sy dankbaar omdat sy weer kan sing.
Sy doen steeds optredes by alles van teepartytjies tot eredienste en oral waar sy kom vertel sy hoe die Here haar gehelp en gedra het.
Sy geniet dit ook om by tehuise vir bejaardes op te tree en het ‘n NPO Soul Serenity gestig waar sy musiek na die bejaardes neem wat help vir hul emosionele gesondheid.
Vir meer inligting besoek gerus haar webtuiste by charliedicks.co.za.
