Kriminele teiken nou motors by karwasse
'n Kommerwekkende nuwe modus operandi het nou sy kop uitgesteek, waar voertuie by karwasse geteiken word.

Kriminele vind voortdurend nuwe maniere om voertuigdiefstal te pleeg, en fokus op gebiede van kwesbaarheid om toe te slaan.
“Dit is algemeen dat niksvermoedende kliënte hulle motors en sleutels agterlaat by karwasse terwyl hulle dan solank inkopies doen. Hierdie situasie word nou deur kriminele uitgebuit,” sê Charnel Hattingh, groephoof van bemarking en kommunikasie by Fidelity ADT.
Onlangs is vyf sulke diefstalle in die Wes-Rand gebied aangemeld.
In die voorvall het die verdagtes by die karwasse opgedaag en die karwaswerkers vertel dat hulle deur die eienaars gestuur is om die motor te kom haal.
Diefstalle het ook plaasgevind waar die sleutels in die voertuie gelaat was.
Hierdie skelmstreek kan vinnig versprei, wat dit ‘n relevante bekommernis vir alle motoriste maak.
Fidelity ADT maan motoriste om die volgende voorsorgmaatreëls te volg:
* Moenie jou kar se sleutels by die karwaspersoneel los wanneer jy by ‘n karwas is nie
* Maak seker jy wag op ‘n plek waar jy jou voertuig kan sien
* Kyk of jy na ‘n karwas gevolg is en of daar verdagte persone rondloop
* Vertel die karwaspersoneel dat net jy jou voertuig sal kom haal
* Bly waaksaam vir verdagte individue en rapporteer enige ongewone gedrag aan die sentrum of plaaslike veiligheidverskaffers.
