Jong Roos het ook ‘n passie vir spoed
VEREENIGING - Wanneer dit by 'n passie vir spoed kom vat die Roos-familie die wenvlag!
Dit het alles begin by Johan Roos snr. wat vir jare plaaslike én nasionale held in ovaalwedren-kringe was.
Jacques (38), wat tans die plaaslike held in die Sprints-klas van ovaalwedrenne is, het met motorsport groot geword.
Hy het as 5 jarige begin deelneem in karting by die Vereeniging Kart Circuit. en was skaars 15 toe hy sy buiging in StockRods-wedrenne op die ovaalbaan in Vereeniging (nou bekend as Ultimate Outlaws) gemaak het.
Op 16 het hy in Sprints begin deelneem.

Nou is daar ‘n nuwe generasie wat sy toetrede tot motorsport gemaak het. Johan jnr. (11) het sowat drie maande gelede aangekondig dat in die StockRods-klas wil meeding.
Maar hy kan al motor bestuur vandat hy 10 jaar oud was. Dit was natuurlik pa Jacques wat hom geleer het.
En ja, net soos sy pa en oupa, is hy lief vir alles wat met karre en spoed te doen het.
Maar anders as sy pa, het Johan jnr. nie in motorsport onder begin en geleidelik na die groter klasse beweeg nie.
“Dit was die plan dat Johan in die Midget-klas deelneem. Maar daar was te veel politiek en ek wou hom nie aan dit blootstel nie,” vertel Jacques.
So, na net een wedren was Johan se deelname in die Midgets iets van die verlede.
“Dit was vyf jaar gelede. Dus was ek baie verras toe Johan uit die bloute vir my sê hy wil begin race,” sê Jacques.
Pa het nie op hom laat wag nie en dadelik aan die werk gespring om vir Johan ‘n motor te laat bou.

Hy het ‘n ou Mazda wat daar rondgestaan het opgebou en gereed gemaak vir aksie. En viola! Johan kon met die aanbreek van die nuwe wedrenseisoen in September sy buiging in die Junior Development-klas maak.
Op die vraag of hy effens bang was, antwoord Johan met ‘n glimlag: “Nee tannie, ek het net gery. Die lekkerste deel is om vinnig te gaan.”
Sy renmotor was toegerus met net ‘n 1300cc-engin, alhoewel die renmotors in die klas met ‘n 1600cc-engin mag ry.
“Hy was nog baie nuut en wou hom nie te veel krag uit die staanspoor gee nie,” vertel Jacques.
Nodeloos om te sê is veiligheid ‘n groot prioriteit vir pa Jacques en ma Jomari. “Die veiligheid van die motor en Johan se veiligheidstoerusting is van topgehalte,” verseker Jacques.

Johan in aksie tydens sy tweede wedren by Ultimate Outlaws. Foto: Elsje VermeulenTydens die November-byeenkoms by Ultimate Outlaws was Johan se renmotor met ‘n nuwe 1600cc-enjin toegerus.
“Hy moet nou gewoond raak aan die ekstra krag, en met elke wedren sal hy beter word,” glo Jacques.
Maar daar is meer! Johan se 14-jarige suster, Mikayla, het pas aangekondig dat sy in pa se voetspore wil volg en ‘n Sprint-jaer wil wees.
Ma Jomari skop nog daarteen, maar pa het besluit dat hy haar volgende jaar ‘n kans gaan gee om te ry.
“Sprints is anders as ander wedrenklasse. Jy kom reg of nie! Sy moet my daarna net sê of sy voluit wil voortgaan of nie,” sê Jacques.
Dit is ook in Johan se voortuitsig om met tyd na ander wedrenklasse op te beweeg. tot by die Sprints.
Intussen sal Johan op 7 Desember weer by Ultimate Outlaws in aksie wees. Net soos sy pa hoop ons ook dat hy dan sy eerste podium plek kan behaal.
Dis dalk net moontlik indien hy sy pa se benaderig toepas: “Binne, buite see you later“.

