Om weer in graad 1 te wees
Glimlag 'n slag. Rubriek - Wanneer twee graad eentjies jou besig hou en oor alles gesels van vakansie tot by maskara aansit.
RUBRIEK – Die week draai ek by Laerskool Kollegepark om met ses juniors te gesels.
Die graad een’s is woelig. Kaalvoet. Blink ogies. Hulle wag semi-geduldig vir my.
Die meisie staan eerste nader. Spel haar naam, Mihana. “Kolletjie op die i.” Haar van? “Rasmussen.”
Nee, sy weet nie hoe om dit te spel nie. Ek ook nie. “Dis ‘n moeilike een,” sug sy.
Ek vra uit oor die jaar, en volgende jaar na die vakansie. “Wie het gesê vakansie?” kom die ander graad eentjie se stem van die anderkant van die personeelkamer.
“Meneer, jy is nie veronderstel om te luister nie. Ons is nou klaar en dan gesels ek en jy.”
“Skuus juffrou,” seg hy voorbeeldig, maar stil sit werk nie vir hom nie. Teen die tyd wat ek Mihana afgeneem het, is hy reeds by ons. Sy gaan sit by die deur.
“Juffrou, hoekom gaan sy nie ook klas toe nie?” protesteer hy. Hy’t gehoor ek het die ander terug gestuur.
“Ek moet vir jou wag,” kom die verweer dadelik.
“Ek reken jou juffrou het gesê sy moet wag, anders loop jy dalk ‘n lang draai terug klas toe.” Die glimlag wat uitbreek bevestig my vermoede.
Dit blyk gou Ayden Strydom, “met ‘n lang y”, is gek oor rugby. Rugby was sy hoogtepunt vir graad een. Rugby gaan sy hoogtepunt wees vir graad twee.
Maar eers gaan hy vakansie hou.“Al wat ek wil doen is om tyd saam met my familie te hê.
“My ma vat net so lank. Sy moet altyd eers haar ooghare doen en cutex aansit. Dan roep sy my pa. Bok, kry my shampoo! Of Ayden bring my cutex tassie!”
“Juffrou wat sit hulle nou weer op hul ooghare?”
“Maskara.”
“Ja, maskara” en Ayden fladder sy oogwimpers en beduie hoe sy ma die maskara aansit.
“Glimlag dat ek jou afneem.” Ek kry ‘n tipiese klein seuntjie grynslag.
“Ag nee, jy lyk of ek jou gaan pynig. Glimlag.”
“Ek kan nooit glimlag vir ‘n foto nie,” skud hy kop. Die grynslag bly. Eers toe ek my gesig trek om vir hom te beduie hoe hy lyk, begin hy te lag.
Die twee word saam afgeneem. Hulle is ingenome met die prentjie op die skerm. Groet dan en spoed uit klas toe. Lekker om in graad een te wees.
Nie gepla met môre of oormôre nie. Ek wens ek het net ʼn kwart van hul energie en lewenslus nog gehad.
