Dis tyd vir die Vaal se Toy Run – 24 November
Dis elke jaar 'n skouspel van kleur en brullende enjins. Ondersteun die Toy Run hierdie Sondag by die Centurions MCC Vaal se klubgronde.
VANDERBIJLPARK – Is jy gereed? Op 24 November gaan die motorfietse brul dat die kranse antwoord gee.
Wel, dit sou as ons berge in die Vaaldriehoek gehad het. Op die Sondagoggend vind die Centurions Vaal motorfietsklub se 29ste Toy Run plaas.
Dit skop af met ‘n massarit om 10:00 vanaf die Dros by Riverside-boulevard (Die Gat) in Vanderbijlpark. Daarna gaan die motorfietse, versier met speelgoed, hul weg baan na die Centurions se klubgronde in Shakespearestraat.
Rian Beeslaar van die Centurions het die roete as volg verduidelik: “Ons ry van die Dros af op in Frikkie Meyer-blvd en draai links in Rossini-blvd. oor die robots by die Mall. Reguit aan in Faraday-blvd totdat ons links draai in Goodyear en dan weer links na die Centurions klubhuis in Shakespeare straat.”
Hy nooi almal uit om in die dag se pret te kom deel. Daar sal verskeie stalletjies en kosstalletjies wees asook ‘n kontantkroeg. Rudo Schwim gaan optree.
DJ Ben sal die musiek verskaf en vir die kleingoed is daar ‘n springkasteel. Toegang is gratis, maar almal word gevra om nie-bederfbare voedsel, dierekos, toiletware en skryfbehoeftes te bring.
Die jaarlikse Toy Run is die grootste biker fondsinsameling in die Vaaldriehoek.
Daar is die jaar ook ‘n lootjietrekking teen R50 per lootjie. Die prys is ‘n geborgde vakansie van 10 dae in Mosambiek in ‘n huis met slaapplek vir 10 mense.
Enige motorfietsryers wat wil deel vorm van die massarit vroegoggend tot by die klubgronde kan Rian by 083 309 8454 of John by 082 653 9009 kontak. Dit geld ook indien ‘n individu of maatskappy groot skenkings wil maak.
