Local newsNews

Vaal se mense span saam vir seun se noodsaaklike operasie

Divandré moet 'n dringende operasie kry om te voorkom dat hy die gebruik van sy arm verloor.

 

‘n Elfjarige seun van Sasolburg is nou reeds twee weke in ‘n Bloemfonteinse hospitaal waar hy wag om ‘n dringende operasie aan sy gebreekte arm te ondergaan.
Divandré van Vuuren se regterarm is Vrydag, 8 November, sleg gebreek toe hy tydens ‘n pouse by sy skool geval het.
Volgens sy ouma, mev. Claudette Gouws, het hulle hom dadelik na Sasolburg se staatshospitaal geneem omdat hule nie lede van ‘n private mediese fonds is nie.

Divandré in die hospitaal in Bloemfontein.

“Die arm is op twee plekke gebreek en die dokter het hom per ambulans na die Pelonomie-hospitaal in Bloemfontein vir ‘n noodoperasie gestuur. Dit is nou al twee weke wat hy daar lê en hy is nog nie geopereer nie. Ons is baie bekommerd oor hom en weet nie meer wat om te doen nie. Ons het met die dokters wat hom behandel, gepraat, maar hulle sê net hulle het ander dringende operasies. Ons moet maar wag,” het Claudette gister aan Vaalweekblad gesê.

Bekommerde vriende van die gesin het intussen ‘n Back-a-Buddy rekening vir Divandré geopen in ‘n poging om gedeurende die naweek genoeg geld in te samel sodat hy Maandag ‘n operasie by ‘n private hospitaal kan ondergaan. Indien die operasie langer uitgestel word, is daar ‘n gevaar dat hy die gebruik van sy arm kan verloor.

‘n Barmhartige dokter van die Vaaldriehoek het intussen laat weet dat hy die operasie Maandag kosteloos by die Midvaal-Hospitaal in Vereeniging sal doen. Daar word egter tussen R30 000 en R40 000 vir teater- en ander kostes benodig.

Inwoners van die Vaaldriehoek het reeds fluks begin bydra en kanse lyk goed dat daar teen Maandag genoeg geld gaan wees om Divandré se operasie te kan uitvoer.
Divandré is nie die enigste lid van sy gesin wat deur ‘n mediese krisis gaan nie. Sy ma, Leh-André, veg reeds ‘n geruime tyd teen kanker en is ook pas weer in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein opgeneem. “Daar is nou 70% kanker in haar beenmurg. Daar is ‘n soort chemo wat haar kan help, maar dit gaan R180 000 kos,” sê Claudette.
Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak om Divandré en Leh-André te ondersteun, kan ‘n inbetaling maak aan: CW Gouws, Capitec bank, Spaarrekening: 1442 7146 79 (Sasolburgtak).
* Hierdie is ‘n ontwikkelende berig. Vaalweekblad sal deur die loop van volgende week verdere opdaterings doen.

LEES HIER ONDER ‘N BERIG OOR DIVANDRé SE MA, WAT IN JANUARIE 2024 IN VAALWEEKBLAD VERSKYN HET:

Moedige ma veg teen leukemie én blindheid

SASOLBURG. – Toe Leh-André Jansen van Vuuren (31) in April verlede jaar aanhoudend begin moeg voel en herhaaldelike infeksies begin kry het, het sy gereken dis iets onskuldig soos griep. Sy het haar gebrek aan eetlus en slaperigheid ook toegeskryf aan “lang-Covid”. Min het sy geweet dat dit die voorspel was tot ‘n baie ernstiger diagnose: Aggressiewe leukemie.

Voordat Leh-André, die ma van twee seuntjies, geweet het wat haar makeer, het sy aanvanklik moedig met haar dagtaak as betaalrol-administrateur by ‘n Sasolburgse rekenmeesterspraktyk voortgegaan. In Junie het haar toestand onverwags dramaties versleg en sy is in die Sasolburgse hospitaal opgeneem, waar bloedtoetse bevind het dat sy leukemie het. Sy is oorgeplaas na die Kroonstad-hospitaal en van daar na Bloemfontein, waar daar dadelik met intensiewe chemoterapie begin is. Weens bloed wat agter haar oë opgebou het, het sy haar sig in een oog heeltemal verloor en net 20% visie in die ander oog oorgehou.

Leh-André en haar man Divan se gerieflike bestaan het die afgelope sewe maande behoorlik ingetuimel terwyl sy gereeld heen-en-weer vir behandelings tussen Bloemfontein en Sasolburg moes reis. Omdat sy al maande lank nie meer kan werk nie, ontvang sy nie meer ‘n salaris nie. Weens ‘n vertraging by die Werkloosheidsversekeringsfonds kry sy ook nog geen bystand uit dié oord nie. Ondanks ekstra oortyd-ure wat Divan as instandhoudingstoesighouer by ‘n onderneming in die Naledi-nywerheidspark insit, is hul geldsake so benard dat hulle reeds hul woonstel verloor het. Hulle woon nou by Leh-André se pa-hulle in Sasolburg, wat help met die versorging van die twee seuns terwyl Leh-André lang tye in hospitale moet deurbring.

Sy benodig dringend ‘n beenmurg-oorplanting, maar uit die sowat 10 miljoen potensiële skenkers wêreldwyd, is daar nog nie ‘n enkele geskikte kandidaat gevind nie. Intussen moet sy maandeliks vir bloedtoetse Bloemfontein toe gaan sodat die leukemie gemonitor kan word. Wanneer ‘n geskikte skenker wel gevind word, sal sy Kaap toe moet reis vir ‘n beenmurg-oorplanting by die Tygerberg-kankerhospitaal. Sy is tans in die Bloemfonteinse Nasionale Hospitaal waar spesialiste probeer vasstel of hulle die bloeding agter haar oë kan “uitwas” in ‘n poging om haar visie te verbeter.
Leh-André se kollegas, wat haar as ‘n “merkwaardige vrou, ma en werknemer” beskryf, het intussen met ‘n insamelingsveldtog begin om die gesin geldelik by te staan met hul reiskoste en algemene uitgawes.

Mense wat Leh-André geldelik wil bystaan, kan ‘n inbetaling maak aan CW Gouws, Capitec bank, Spaarrekening: 1442 7146 79 (Sasolburgtak).

Mev. Leh-André Jansen van Vuuren van Sasolburg, wat nie net teen aggressiewe leukemie veg nie maar ook slegs 20% visie oorgehou het weens gevolge van die siekte. Hier kry sy ‘n soen van elk van haar seuns, Divandré (10) en Lorenzo (7)
Leh-André het haar pragtige lang hare laat afskeer toe dit in bosse begin uitval het weens die chemoterapie.’Dit was baie traumaties vir die seuns toe ek my hare verloor het, maar hulle weet nou dat dit net tydelik is en sal teruggroei,’ sê sy

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button