Ek sê maar net… Wissel, wiskunde en rou vis
RUBRIEK. Die twee maters gesels lekker oor alles en nog wat, solank hulle nie hoef stil te sit terwyl hul daaroor gesels nie.
RUBRIEK – Fonteine Primêre Skool in Sasolburg het ‘n museum. Gepak met foto’s van meer as 50 jaar se leerlinge, personeellede en die skool se doen en late.
Altyd lekker om daar met die juniors te gesels. Vir die meeste is dit gewoonlik hul eerste kans om die foto’s van naderby te bekyk.
Maandagoggend storm vyf graad drie’s die kamer binne. “Saggies, die seniors skryf eksamen,” vermaan ek voordat die een of ander kwaai onnie inkom.
“Ag, hulle skryf in die saal,” kom die antwoord. Duidelik is eksamens nog nie vir hulle ‘n probleem nie.
Ek verduidelik hoe dit gaan werk. Ek gesels met elkeen apart terwyl die res kan foto’s kyk.
“Ek is laaste,” kom dit dadelik van Mia. “Ek is tweede laaste”. “Dan is ek derde laaste,” koor die res dadelik.
Ek los hulle dat hulle die agterste voor orde maar self uitwerk en begin by die twee graad eentjies. Die ander het ‘n ou lugfoto van die skool ontdek.
“Daar’s die rugbyveld.”
“Issie dis die krieket pitch.”
“Haai, daar was net twee krieketnette. Ons het nou vyf.”
“Daar is ‘n swembad. Hoekom het ons nie meer ‘n swembad nie?”
“Saggies,” herinner ek hulle weer en die volume knoppies daal bietjie. Eindelaas is nog net twee oor.
Muller kry sy sit en Mia… Waar is Mia? Sy lê onder die tafel. Hoekom? Sommer.
“Julle twee is seker vriende,” maak ek ‘n stelling omdat hulle namens mekaar antwoord.
“Ja juffrou.”
“Sit dat ek julle saam afneem.” Hulle hou baie van die idee.
Ek en Muller gesels oor sushi. “Dis viskos. Ek het dit al geproe. Dis nie lekker nie. Ek hou van filet steak met marinade sous,” glimlag hy dat mens net kuiltjies sien.
Hier is ‘n hartebreker in wording, maar die meisies sal moet weet, hy eet vleis en nie rou vis nie.
Dis Mia se beurt. Muller draai in die kamer rond. “Jy moet klas toe gaan,” sê Mia.
Muller lyk dadelik afgehaal. “Is okay. Hy kan vir jou wag.” Weer straal die gesiggies.
Waarna sien julle uit volgende jaar in graad vier? “Wiskunde en wissel,” sê hy. “Afrikaans, Engels, Wiskunde en wissel,” voeg Mia by.
Hulle groet vrolik voordat hulle klas toe gaan. Reg om graad drie se stof af te skud. Opgewonde oor graad vier. Ek wonder net of graad vier reg is vir hulle?
