Luister na Rea se nuwe dansvloer-treffer ‘Hakke’
Die tyd het aangebreek! Trek jou "Hakke" aan en stamp op die dansvloer, want dis tyd vir somerpret. Rea le Roux het net die regte enkelsnit hiervoor vrygestel.
Dié energieke sangeres wat reeds verskeie kere in die Vaal opgetree het, het kragte saamgesnoer met twee musikale eksperts om die nuwe danstreffer te vermag.
“Ek hou van eksperimenteer met verskillende genres en klanke,” vertel sy opgewonde.
“Ek het die geniale liedjieskrywer Roelf Fritz van Zondagkraal genader. Hy skryf briljant en al sy liedjies het diep lirieke en hy skryf soos hulle sê ‘musiek vir die siel’.
“Ek het hom uitgedaag deur hom te vra of hy dink hy kan ‘n liedjie vir my skryf wat SA se hakke sal laat stamp op die dansvloere vir Somer 2024.
“Hy het gesê dansmusiek is nie sy styl nie maar hy sal probeer en sy kitaar opgetel. So is Hakke gebore. Ek was dadelik mal daaroor.”
Die akoestiese weergawe van Hakke is toe gegee aan nog ‘n musikale genie, Leon Barnardt wat enige styl musiek en musiekvideo kan vervaardig.
Hy het op sy beurt die nodige beat bygesit om die liedjie in ‘n dansvloer-treffer te omskep.
“Ek is opgewonde oor hierdie samewerking met Roelf en Leon. Hakke is om mense te laat dans,” sê Rea.
Sy spog reeds met treffers soos Kaalvoet in die reën dans, Ek’s gatvol vir huis skoonmaak, Die hemel is oop vanaand en Vergewe en Vergeet.
Luister gerus self na haar nuwe enkelsnit en besluit of jy dink die nuwe enkelsnit kan by die trefferlysie gevoeg word – klik op die album.

