Local newsNews

Kankerterugslag stel groot eise aan ‘Koning Leeu’

Mnr. Hendrik van Niekerk se hele regterbeen, -heup en -boud moes weens sy siekte geamputeer word.

 

VEREENIGING. – Baie Facebooklede ken “Koning Hendrik Leeu”, oftewel mnr. Hendrik van Niekerk, as ‘n interessante ingenieur wat gereeld sinvolle menings en praktiese raad op Vaalweekblad se Facebook-groep geplaas het. Baie sou ook agterkom dat hy die afgelope tyd al stiller begin raak het. Die rede? Dit gaan nie goed met dié geliefde inwoner van die Vaaldriehoek nie.

Hendrik woon al sedert 1990 in Vereeniging. Volgens sy dogter, Lelani Botha, is hy in 2012 met sarkoomkanker gediagnoseer. Talle operasies, chemoterapie en bestraling het gevolg. Danksy goeie mediese behandeling en Hendrik se positiewe aard het dit ál beter gegaan.

Die kanker het egter teruggekeer en in 2023 het een van die kankervergroeisels in sy binnebobeen gebars. Hy is in lewensbedreigende omstandighede hospitaal toe gehaas, waar hy en sy familie moes hoor dat slegs ‘n ingrypende hemi-pelvektomie sy lewe sou kon red. Die kans dat hy die operasie sou oorleef, was maar ‘n skrale 20%, maar dit was beter as niks.

‘n Hemi-pelvektomie is ‘n chirurgiese prosedure wat die verwydering van ‘n deel van die bekkengordel behels – gewoonlik weens die gevolge van kanker. In Hendrik se geval het dit beteken dat sy hele regterbeen, -heup en -boud geamputeer moes word. Hy het ook die helfte van sy pelvis verloor.
“Deur die Genade het my pa dit oorleef, maar hy kan nou nie meer werk nie en sit met baie groot mediese skuld. Dit plaas ‘n massiewe finansiële las op hom,” sê Lelani.

Hendrik was lank in die hospitaal maar word nou tuis deur sy vrou versorg. Hy sal vir die res van sy lewe pype in sy blaas moet hê en ‘n urostomie (‘n sakkie waarin urine versamel) moet gebruik.
As meganiese ingenieur wat in vervoerbande, brekers en waterbuisketels gespesialiseer het, het hy jare lank kontrakwerk op myne en by ander nywerhede gedoen. Hy was ‘n aktiewe man wat graag tennis gespeel het en ‘n groot hart vir mense en diere gehad het. Sy liefde vir mense en diere het gebly, maar van tennis is daar nie meer sprake nie. Skaak is tans sy enigste tydverdryf.

“Ek dink die moeilikste deel vir hom is dat hy swaar grootgeword het en baie hard gewerk het om ‘n goeie lewe en toekoms te bou. Voordat hy siek geword het was hy baie suksesvol en het graag ander mense in nood gehelp. Niemand van ons kon voorsien dat hy so siek gaan word en sou moes ophou werk nie. Hy moes die afgelope tyd al baie van sy besittings verkoop om net aan die lewe te bly en sy mediese koste te probeer dek,” sê Lelani.

Sy het onlans ‘n Back-a-Buddy rekening vir haar pa geopen in die hoop dat sy geld vir sy mediese skuld sal kan insamel, en dalk ook genoeg vir ‘n prostese sodat hy gemakliker kan sit. Mense wat hom graag geldelik wil ondesteun, kan ‘n inbetaling maak by Capitec, Rekeninghouer: HJ van Niekerk, Spaarekening: 1812773712, Verwysing: Koning Leeu.

Hendrik voordat hy so siek geword het en die ingrypende amputasie moes ondergaan.
Mnr. Hendrik van Niekerk glimlag steeds moedig, maar sy lewe het in ‘n pynlike stryd verander nadat hy kanker gekry het en ‘n hemi-pelvektomie moes ondergaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button