Local newsNews

Dié drie susters is gebore leiers

Maak nader kennis met die drie Janse van Rensburg sussies van Vaalpark.

VAALPARK – Mieke, Lumé en Marli Janse van Rensburg. Drie susters met vonkel blou oë. Uiteenlopend van geaardheid, maar duidelik familie.

Al drie skitter in alles wat hul aanpak. Volgende jaar dien hulle op hul onderskeie skole se leerlingrade. Mieke as hoofmeise van Vaalpark Primêr, Lumé as ‘n graad 11 lid van Transvalia se leerlingraad, terwyl ousus Marli as hoofmeisie van die HS Transvalia aangewys is.

“Dit gaan ‘n besige jaar wees, maar met die drie is elke jaar besig,” lag hul ma Maralise. Sy en haar man, Koos is super trots op die drie en ondersteun hulle waar hulle kan.

Mieke geniet redenaars, hokkie en netbal en het hierdie jaar die redenaarsbeker gewen. Wanneer sy nie by die skool doenig is nie, geniet sy perdry.

“Ek doen nie kompetisies of so iets nie, ek ry net,” vertel sy. Sy en haar perd, Saphire, verstaan mekaar. Mieke is jammer dat sy en Marli nie saam op hoërskool gaan wees nie.

“Lumé gaan in graad 12 wees as ek in graad agt is. Ek het net ‘n jaar om in haar goeie boekies te kom,” vertel sy.

Die gedagte dat sy haar jongste sussie gaan ontgroen verskaf vir Lumé baie pret. Dis alles in goeie gees. Die drie is baie naby aan mekaar en doen wat hul kan saam.

Lumé sê sy is bevoorreg om al in graad 11 op die leerlingraad te wees. “Marli was ook,” vertel sy trots.

Waar haar sussies ‘n voorliefde het vir perdry, geniet sy eerder modelwerk en was sy hierdie jaar ook deel van Transvalia se cheerleaders.

“Lumé is Mej. Valia snr,” sê haar ma. “Dis groot, want dit gebeur min dat ‘n graad 10 die titel verower,” voeg Marli by. Die susters is trots op mekaar.

Marli, soos haar susters, geniet alles van redenaars tot by hokkie en atletiek. Sy het die jaar ook die hoofrol in die skool se revue vertolk.

Verder geniet sy dit om video’s te redigeer en is sy in beheer van die skool se sosiale media blaaie.

Sy saal gereeld haar perd, Sadek, op om te gaan ry en as sy regtig wil ontspan dan neem sy die kombuis oor. “Ek hou van bak en brou,” lag sy.

In die Janse van Rensburg-huishouding word daar baie gelag, hard gewerk en voluit geleef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button