Kersmusiek met Spaanse flair by ERT
Dit beloof om 'n besondere middag van goeie Kersmusiek, sang en Spaansedans te wees. Lees meer...
SASOLBURG – Spaanse dans, tradisionele Kersmusiek en Spaanse Kersmusiek is die perfekte resep vir die Etienne Rousseau Teater (ERT) se finale vertoning vir 2024.
Sondag, 8 Desember om 15:00 kan teatergangers terugsit en ontspan met musiek en dans uit die boonste rakke.

Die produksie, Feliz Navidad, snoer die talente van Georgina’s Dance Studio, FZ Arts Voices en Vaalpark High School saam.
Georgina Jacobs sê haar senior dansers gaan Spaanse danse doen en die jongspan ballet. Alles natuurlik met Kersfees in gedagte.
Franz Geldenhuys het laat weet sy Curro en die Vaalpark High School se kore gaan optree.
“Ons het so nege stukke wat ons gaan doen, afgewissel met die dansers en dan is daar so ‘n twist vir die kleingoed,” het hy belowe.
Teatergangers kan reeds van 13:00 af by die teater bymekaarkom vir ‘n Spaanse Fees. Daar sal kosstalletjies wees, asook stalletjies wat Kersgeskenke verkoop.
Vir meer inligting en om te bespreek gaan na ertickets.com
