Local newsNews

Kanker eis geliefde oudkollega van MooiVaal Media

Wyle Kietsie se gedenkdiens word Donderdag, 5 Desember, in die NG Moedergemeente in Vanderbijlpark gehou.

 

VANDERBIJLPARK. – Kolonkanker het verlede week die lewe van mev. Kietsie Pieterse, ‘n voormalige werknemer van MooiVaal Media, geëis.
Kietsie, wat ‘n geruime tyd teen die siekte geveg het, is verlede Donderdagoggend tuis in St Helenabaai in die Wes-Kaap oorlede, waar sy en haar man, Hendrik, besig was om hul lankbegeerde “huisie by die see” te laat bou. Haar man het tot met haar dood om 02:20 die oggend by haar gewaak.

Kietsie het in die Vaaldriehoek grootgeword en aan die Hoërskool Transvalia gematrikuleer voordat haar loopbaan in bankwese en boekhouding begin het. Sy het mettertyd by MooiVaal Media (destyds Vaaldriehoek-Uitgewers) se administratiewe afdeling aangesluit, waar sy spoedig naam gemaak het as ‘n uitmuntende krediteure-klerk. Oudkollegas onthou haar vir haar absolute noukeurigheid en toewyding aan haar werk, maar ook as ‘n terggees wat gereeld vir ‘n glimlag in andersins stresvolle werksdae gesorg het.

“Sy was ‘n sagte mens met ‘n oneindige liefde vir diertjies en die Here. Sy kon ‘n vertrek ophelder met haar glimlag en was altyd bereid om ‘n pleister te plak as iemand seergehad het. Ons sal haar sagte hart en eindelose liefde alyd onthou. Sy was ‘n omgeemens tot die einde toe,” sê haar dogter, Ann-Dalene.

Nadat Kiets MooiVaal Media se diens verlaat het, het sy nog ‘n geruime tyd die boekhouding van ‘n mediese praktyk behartig en haar met kunswerk besig gehou.
Buiten haar man en dogter, word sy ook oorleef deur haar seun, Heini. Haar gedenkdiens word Donderdag, 5 Desember, in die NG Moedergemeente in Vanderbijlpark gehou.

Wyle Kietsie Pieterse.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button