Local newsNews

Sakevrou uit die Vaal reik uit na pastore in Egipte

Kerke of ander belangstellende groepe wat graag meer oor haar uitreik na Egipte wil hoor, kan Therisa gerus kontak by 082 413 6957 om 'n aanbieding te reël.

 

VANDERBIJLPARK. – Die voortslepende oorlog in die Midde-Ooste skrik tans baie toeriste af om daardie wêrelddele te besoek. Dit het ‘n Vanderbijlparkse vrou en haar dogter egter nie gekeer om onlangs na Egipte te reis en te help om ‘n konferensie vir sowat 400 Christenpastore en hul gesinne uit Egipte en Ethiopië te fasiliteer nie.

Therisa Broekman, PSG se kantoorhoof in die Vaaldriehoek, het op 27 Oktober vir 12 dae na Egipte vertrek om in haar private hoedanigheid aan die organisasie Dia-Logos se konferensie vir pastore uit Arabiese lande deel te neem. Buiten ander Suid-Afrikaners wat die reis meegemaak het, is sy vergesel deur haar dogter Lize, ‘n oud-Vanderbijlparker wat deesdae as fisioterapeut by die organisasie Ethnos Movement International (EMI) se Door of Hope-kliniek in George werk.

“Sowat 50% van alle Christene in die Midde-Ooste bevind hulle in Egipte. Hoewel dit ‘n Moslemland is en Christene nie heeltemal vrylik hul godsdiens kan beoefen nie, is dit wel die toeganklikste land vir Christene in dié wêrelddeel. Die doel van die uitreik was om Christenpastore in hul stresvolle omstandighede te bemoedig, hulle byeen te bring en ‘n uitlaatklep te gee omdat hulle normaalweg nie regtig in hul gemeenskappe uiting aan hul gedagtes en oortuigings mag gee nie. Dit was ‘n wonderlike ondervinding waar ons die Here se werking kon sien, en hoe Hy mense veilig hou,” sê Therisa. Aangesien min van die pastore Engels magtig is, moes daar van tolke as tussengangers gebruik gemaak word.

Daar was darem ook tyd om besienswaardighede soos die piramides van Giza en ‘n eiland in die Nylrivier te besoek. Die toergroep het ook die Aswan-omgewing besoek, waar Christene uit Duitsland ‘n hospitaal bedryf in ‘n area waar daar geen ander mediese fasiliteite is nie.

Therisa sê sy was besonder beïndruk deur ‘n massiewe grotkerk in Kaïro, wat ontstaan het toe stukke rots duisende jare gelede as boustene vir die piramides uitgekap is. Die grot bevat verskeie uitbeeldings van Jesus se lewe, en Christen-eredienste word steeds hier gehou. Die grotkerk bied sitplek aan 20 000 mense en is pynlik netjies en skoon – en dit in ‘n stad met 25 miljoen inwoners waar daar geen formele vullisverwydering is nie. Baie inwoners van die Kaïro maak ‘n bestaan daaruit om vullis te versamel, bruikbare artikels te herwin of nuwe artikels daaruit te skep.

“Ek wil almal vra om te bid vir Egipte. Ons glo die land is die sleutel wat Christenskap in die Midde-Ooste kan ontsluit. Die land kan ook ‘n groot rol speel in vredesamesprekings met al die oorloë wat tans in daardie wêrelddele aan die gang is,” sê Therisa.

Kerke of ander belangstellende groepe wat graag meer oor haar uitreik na Egipte wil hoor, kan Therisa gerus kontak by 082 413 6957 om ‘n aanbieding te reël.

Therisa Broekman en haar dogter Liza tydens hul besoek aan die piramides van Giza.
Therisa Broekman (middle agter) en haar dogter Liza (middel voor) saam met ‘n groep Christene uit Suid-Afrika, Amerika en Europa wat aan die uitreik na Egipte deelgeneem het. Die piramides van Giza kan in die agtergrond gesien word.
Van die teenwoordiges tydens die konferensie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button