Local newsNewsNews

Vrystaat het hoogste verkragtingsyfer in die land

Volgens die jongste misdaadstatistiekverslag is die Vrystaat 'n gevaarlike plek vir vroue, met die meeste voorvalle van verkragting in die land.

Volgens die misdaadstatistiekverslag wat deur die minister van polisie, Senzo Mchunu, bekend gemaak is, het die Vrystaat die meeste voorvalle van verkragting in die land aangeteken met 24 uit elke 100 000 vroue wat slagoffers is van dié misdaad.

“Die hoë aantal verkragtingsgevalle in dié provinsie die afgelope kwartaal dui op ernstige tekortkominge in die beskerming van vroue in die Vrystaat,” lui Armand Cloete, VF Plus-LPW: Vrystaat se mediaverklaring.

Volgens die jongste verslag het seksuele aanranding in dieselfde tydperk met 32,7% toegeneem.

“Die feit dat dwelmverwante misdade in die Vrystaat met 16,2% gestyg het, wys ook dat die polisie tans die stryd teen dwelms verloor,” meen Cloete.

Volgens hom is die VF Plus nie oortuig dat ’n afname van 9,4% in veediefstal in die provinsie ‘n ware prentjie skets van wat in landelike gebiede ervaar word nie.

“Dit kan wees dat boere hul vertroue in die polisie verloor het en eenvoudig nie meer veediefstal aanmeld nie, aangesien ondersoeke dikwels nie tot vervolging lei nie,” voer hy aan.

Hy het dit egter beklemtoon dat die VF Plus in die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid daarop aandring dat die nasionale landelike beveiligingsstrategie in die Vrystaat in werking gestel en hersien word.

“Owerhede moet hulle nie blind staar teen koue data nie. Daar moet gefokus word op ware veranderinge deur polisiebeamptes wat hul pligte met toewyding nakom, polisiekantore wat effektief funksioneer en voldoende hulpbronne (soos voertuie), om misdaad beter te bekamp,” sluit Cloete af.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button