Koshuisdroom bewaarheid vir Transvalia
Koshuislerlinge gaan per hand uitgesoek word
VANDERBIJLPARK – Koshuisbrakke… Ons het almal waarskynlik al van hierdie
tong-in-die-kies term gehoor om inwoners van ‘n seunskoshuis te beskryf.
Wel gemeet aan die standaard van akkommodasie wat die koshuisleerlinge by die HS Transvalia se nuwe koshuis gaan kry, gaan hierdie term soos ‘n seer duim uitstaan.
Hier gaan bloubloed “honde” tuisgaan. Die drieverdieping koshuis sal minstens drie sterre in die reis en verblyf industrie verdien.

Elk van die 22 kamers het ‘n ensuite badkamer, studiehoekie en nog vele meer. Moet ook nie dink dat daar twee staalbeddens met staalvere en sponsmatrasse in die kamers pryk nie.
O, nee hierdie beddens sal in enige gastehuis of hotel met gerustheid aangewend kan word. Elke kamer is ook met sy eie mini yskas toegerus.
Volgens Transvalia se hoof, Johann Venske, het ‘n weldoener ontwikkelaar wat anoniem wil bly in Oktober begin om die koshuis te bou.

“Dit is een van die skool se eksterne projekte. Dit kos die skool nie ‘n sent nie. Ons gaan nie kinders in die Kaap werf met die koshuis nie.
Hierdie is om talent in die Vaaldriehoek te hou,” gee Venske te kenne.
Voornemende leerlinge van Parys, Heilbron, Potchefstroom en ander
omliggende gebiede in die Vaaldriehoek sal waarskynlik hierby kan baatvind.

Buiten die verblyf word die destydse LO-saal en binnemuurse krieketakademie se geriewe in ‘n eetsaal en ontspanningsarea
omskep.
Volgense Venske gaan hierdie ultra moderne geriewe die publiek se asem
wegslaan.
Benewens die koshuis het Transvalia onlangs ook ‘n astrobaan hokkiebaan ryker geword wat aan Olimpiese standaarde
voldoen.

“Hierdie projekte het my oud gemaak,” sê hy tong-in-die-kies.
“Ons het van klein tot groot borge gewerf en ons is baie dankbaar vir die ouers en sakelui binne en buite die Vaaldriehoek wat ons ondersteun het,” vertel hy.
Transvalia se eerste en o14-rugbyspan het vanjaar die Noordvaalkompetisie se plaatafdeling gewen en skuif aanstaande jaar op na die beker-afdeling. Bykans al die skole in hierdie afdeling spog met koshuise.
Volgens Venske word daar beoog om die koshuis einde Desember klaar te hê.
Na wat verneem word gaan daar ook eersdaags ‘n dogterskoshuis gebou word.
Maar dit sal eers in 2025 aandag geniet. Met hierdie word die skool se leuse uitgebrei, behou en bou!
