Local newsNews

Taxi-drywer raadop weens ondraaglike pyn

Pierre sal vier tot ses maande moet wag vir 'n afspraak by 'n staatspesialis.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n 42-jarige pa wat ondraaglike pyn in sy regtervoet en been verduur, is moedeloos omdat hy maande moet wag vir ‘n afspraak by ‘n staatspesialis. Intussen neem die pyn daagliks toe, terwyl hy moedig probeer om kos op sy gesin se tafel te hou.
Mnr. Pierre van der Westhuizen, ‘n diabeet van Vanderbijlpark, sê dat hy twee jaar gelede sepsis (bloedvergiftiging) in sy voet ontwikkel het.

“Dokters by die Sebokeng-hospitaal wou my been amputeer, maar met genade van Bo het sakeondernemings my gehelp om behandeling by ‘n private instansie te kry. My voet en been is toe gered, maar so twee maande terug het die probleme weer begin. Ek ly aan ‘n toestand wat die beendere in my voet laat verbrokkel, met gevolg dat my voet heeltemal skeeftrek. Waar ek normaalweg ‘n nommer 10-skoen gedra het, dra ek nou ‘n nommer 12, maar selfs dit is te klein. Dit druk my en dan kry ek blase en infeksie. Die brandpyn in my voet en been raak onuithoudbaar en ek kan skaars loop. Dit word ál moeiliker om my werk as taxi-bestuurder by Taljaard Taxi’s te doen,” sê Pierre. Hy is ‘n getroude man en pa van twee dogtertjies van onderskeidelik 4 en 8 jaar.

“Ek het al ‘n knop in my lies weens die infeksie en dit lyk of die antibiotika wat ek by die staatshospitaal kry, nie werk nie. Hulle pynpille is ook te swak om die pyn te verdoof. Die staatshospitaal se waglys om ‘n voetspesialis te sien, is baie lank. Ek sal vier tot ses maande moet wag – as ek gelukkig is,” sê ‘n moedelose Pierre.

Sy salaris is net genoeg om kos vir sy gesin te koop, dus kan hy nie behandeling by ‘n privaatdokter bekostig nie. Enigiemand wat hom kan bystaan met groter skoene, of kan help met ‘n insameling sodat hy private mediese behandeling kan kry, kan Vaalweekblad per WhatsApp kontak by 083 246 0523. ‘n Donasie kan ook gemaak word by Nedbank, Rekeninghouer: P.C. van der Westhuizen, Spaarrekening: 1250091020, Vaal Mall-tak.

Die foto’s van Pierre se voet, hier onder, kan sensitiewe lesers ontstel. Moenie verder afrol as jy dit nie wil sien nie.

 

 

 

 

 

 

 

Mnr. Pierre van der Westhuizen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button