Veelsydigste fotograwe gekroon
VANDERBIJLPARK - Jaarliks met die laaste klubaand van die jaar in November, word lede van die Vanderbijlparkse Fotografiese Vereniging se vernuf ekstra beproef.
Om goeie foto’s te neem is reeds ‘n kuns, maar om ‘n veelsydige fotograaf te wees wat alle genres van fotografie te bemeester is voorwaar ‘n prestasie.
In November is dit tyd vir die veelsydigheids-kompetisie waar fotograwe vyf foto’s uit ‘n keuse van 9 kategorieë kan inskryf.
Die kategorieë sluit in: landskappe, argitektuur, portrette en kreatiewe fotografie tot makrofotografie en sport.
Gesoute beoordelaars van Kaapstad is vir die beoordeling ingespan en hulle moes behoorlik bontstaan om wenners in die nege kategorieë aan te wys.
Behalwe vir die kategorie-wenners, is daar ook wenners vir die onderskeie Ster-graderings.
Die junior-afdeling is vir 1 tot 3 Ster graderings, en die senior-afdeling vir 4 Ster en hoër graderings.
Die fotograwe het punte gekry vir al die foto’s wat hulle in die onderskeie afdelings ingeskryf het, waarna die punte bymekaar getel is om die alghele wenners te bepaal.

Francois Roux is as die algehele wenner aangewys, met Haig Fourie kort op sy hakke.
Francois se foto “Daar is nog lewe” is aangewys as beste foto van die aand.
In die junior-afdeling is Eanette Maass se foto “Malawi visserman” as die wenfoto aangewys.
Die klub wens almal ‘n baie Geseënde Kerstyd toe.

Die eerste klubaand vir die 2025 is op 17 Januarie 2025 by NWU om 18:30. Die tema is “Spreekwoorde.”
Belangstellendes is welkom om die aand by te woon. Vir meer inligting en om deel te word van die klub kontak Johan Brits by 082 718 8394 of tsawa@yebo.co.za
(Besoek die klub se Webtuiste: www.vdbp-photo.co.za of Facebook blad by https://www.facebook.com/VdbpPhotoClub).

