Local newsNewsNews

Kuns, haar beroep en haar liefde

Maak nader kennis met Wilinda Roelofse kunsonderwyseres van formaat wat self ook 'n goeie skilder is.

VANDERBIJLPARK – Die studio is kleurryk, rustig. Op die tafel staan die aandstudente se werk gereed. Hulle kan aangaan waar hulle die vorige keer opgehou het.

Teen die mure hang heelwat van Wilinda Roelofse se eie skilderye. Een van haar as ‘n dogtertjie. “Ek het dit van ‘n foto geskilder toe ek ‘n student was,” onthou sy.

Wilinda Roelofse voor van die skilderye waaraan haar Woensdagaand-studente tans werk. Foto’s: Gerda Bruinette

Langsaan hang ‘n skildery van ‘n dogtertjie met ‘n groot hap in die hare. “Dis my sussie. My ander sussie en sy het gespeel en my ousus het gereken as my sussie haar baba moet wees, kan sy nie lang hare hê nie.”

Wilinda het in Pretoria grootgeword. “Ek was die laatlammetjie en het van kleins af myself besig gehou. Een van die dinge wat ek die meeste geniet het was om te teken,” vertel sy.

Sy was gelukkig om kuns as vak op skool te hê en het daarna met ‘n onderwysbeurs Kuns B.Ed op Tuks geswot.

Met haar troue het sy Vanderbijlpark toe verhuis. In die Vaaldriehoek was sy vir jare kunsonderwyseres by die voormalige Hoërskool Vereeniging.

“In 2000 het hulle egter kuns as vak by die skool weggeneem en op aandrang van my vriende en oudkollegas het ek met privaat kunsklasse begin.

“Ek het met een volwassene en een laerskool leerder begin. Aan die begin het ek sommer my tweeling dogters ook in die klasse laat sit, dat daar darem net meer asems was. Rent a crowd,” lag sy lekker.

Intussen het daar meer as twee dekades verloop en vandag bied sy voltyds kunsklasse aan van laerskool tot by volwassenes.

“Ek sê altyd as jy leesbaar kan skryf, kan jy leer teken. Elkeen moet net op sy of haar eie pas ontwikkel. Ek leer al my studente om nie te kyk wat die ander een doen nie. Elkeen het hul eie doel hoekom hulle kunsklasse bywoon.”

Alhoewel sy self nog skilder, meestal op kommissie, erken sy dat sy die onderrig gedeelte meer geniet.

“Daar is baie sielkunde in kuns. Dis goed om te sien hoe my studente groei, meer van hulself leer. Veral die kinders leer hier van die lewe.

“Hoe dit soms nodig is om eers iets klaar te maak waarvan jy nie hou nie. Ook dat al jou skilderye nie ewe mooi kan wees nie en dat jy soms ‘n flop het. Dis mos maar hoe die lewe ook is. Ons moet net leer om die flops te hanteer,” deel sy haar wysheid.

“Dis lekker om elke dag te doen waarvoor ek lief is. Nie almal kan sê dat hulle hul beroep so baie geniet nie. Jy weet, ek gee al so lank kunsklasse, ‘n volgende generasie kinders begin nou les te neem, terwyl ek studente het saam met wie ek al meer as 20 jaar ‘n pad loop.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button