Local newsNewsNews

Dié Queen Victoria blom net eenmaal

'n Vetplant vernoem na 'n koningin in die hartjie van die Vaaldriehoek

VANDERBIJLPARK – Die vetplant staan uitgerys in die sementbak. Mooi blare wat lyk asof dit met wit strepies geverf is. Dis die stingel wat die oog vang.

Dawie Fourie langs die Queen Victoria wat in blom is.

Dit reik oor die 4m die lug in en is oortrek met fyn wit blommetjies. Die plant se amptelike naam is die Queen Victoria Agave.

Inheems aan Meksiko word hy nie sommer in tuine in die Vaaldriehoek gewaar nie. Veral nie in volle blom nie.

Die plant groei stadig. Baie stadig. Dit kan tot 25 jaar neem alvorens die plant stingel uitstoot en blomme dra.

Hierdie Queen Victoria plantjie is al vier jaar oud.

Die Queen Victoria blom ook net eenmaal, dan gaan die blomme en die plant dood. Dawie Fourie, ‘n ywerige tuinier, sê die plant was al redelik groot toe hy in 1999 by die huis ingetrek het.

Daarna het hy die plant net liefde en water gegee soos al die ander plante in sy tuin. Hierdie jaar het die plant uiteindelik knoppies begin toon en na sowat ‘n maand het die knoppies oopgemaak.

Die groot broodboom staan al jare in die voortuin

Nie dat enige een die plant se blomme behoorlik kan sien nie. Selfs as Dawie op ‘n leer staan kan sy hand steeds nie by die onderste blomme bykom nie.

Die Queen Victoria is nie die enigste besondere plant in die tuin nie. Op die stoepmuurtjie staan daar ‘n klein plantjie van dieselfde spesie in ‘n bakkie.

“Daardie Queen Victoria is al vier jaar oud en begin nou eers soos een te lyk,” skud Dawie kop.

Op sy Baberton Daisies met hul groot, helderkleurige blomme naby die voordeur is hy baie trots, so ook die Bottle Brush wat hy self gesnoei het en die krismisrose wat alreeds in blom is.

Die kiewietsnes sit tussen die blare van die groot broodboom voor in die tuin.

Dan is daar die groot broodboom vlak by die tuinhekkie. Die staan ook al baie jare daar.

Tans is daar ‘n kiewietsnes met baba voëltjies versteek tussen die blare en ‘n pragtige “brood” in die middel.

Dawie het verskeie tenks op sy erf waar hy reënwater opvang om so die oorlewing van sy geliefde tuin te verseker, selfs al woed daar ‘n droogte.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button