Bloedjong Kersvader bring vreugde na die Vaal
JF tree sedert 2022 teen vergoeding as Kersvader op om vreugde te bring aan kleingoed wat oor die Kerstyd saam met hul ouers in Jan Tuisbly se karretjie moet ry.
VAALPARK. – Wie sou kon raai dat ‘n jong weergawe van Kersvader hierdie Desember sy huis in die Noordpool vir die snikhete Vaaldriehoek verruil het? En dit alles om geskenkies vir soet kinders van die Vaal te bring!
Dit is vanjaar die derde Kersfees dat JF van der Merwe (25) sy Kersvaderpak gaan aantrek om presentjies en lekkergoed af te lewer by kleingoed van Vanderbijlpark, die omliggende hoewes, Sasolburg en sy tuisdorp, Vaalpark.
JF en sy vriendin, Danelle, het lankal besef dat werk vir jongmense in die Vaaldriehoek skaars is en dat mens maar self planne moet maak om ‘n inkomnste te genereer. Hulle lewer al ‘n geruime tyd hoëgehalte roomys by huise in die Vaaldriehoek af, maar het gou besef dat hulle nog verder uit die boks, oftewel die “krismisboks”, sal moet dink om hul inkomste aan te vul.
JF tree sedert 2022 teen vergoeding as Kersvader op om vreugde te bring aan kleingoed wat oor die Kerstyd saam met hul ouers in Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Hy word in dié taak bygestaan deur Danelle, sy geesdriftige “elf”.
Hulle besoek dan kleingoed gedurende die feestyd by hul huise – op afspraak met die ouers – waar hulle die Kersgeskenke wat ouers gekoop het, met groot vertoon kom aflewer. Teen ‘n ekstra fooi verskaf hulle ook toepaslike geskenke as ouers nie tyd het om self te gaan koop nie.
“Danelle en ek is albei baie lief vir kinders en ons geniet dit om hulle te entertain,” sê JF.
Die enigste probleem wat hulle soms teëkom, is dat die kleingoed hulle nie wil laat gaan nie, of aandring om saam met hulle terug te reis Noordpool toe!
* Ouers wat meer oor JF en Danelle se dienste wil uitvind, kan hulle kontak by 076 097 9963.


