Local newsNews

Tragiese nuus: Verlamde Desiree verloor albei ouers in botsing

"Hulle was 'highschool sweethearts'. Nie eers die dood kon hulle skei nie."

 

VANDERBIJLPARK. – Op 22 Augustus 2020 het ‘n fratsongeluk Desiree van der Westhuizen eensklaps van ‘n aktiewe kleuterskoolonderwyseres in ‘n kwadrupleeg verander. Die afgelope vier jaar het sy moedig by dié terugslag begin aanpas – hoofsaaklik danksy die voltydse sorg van haar liefdevolle ouers, Cas en Siena van der Westhuizen. Op 31 Oktober vanjaar is die mat wéér onder Desiree uitgeruk toe albei haar ouers saam in ‘n botsing in Sasolburg gesterf het.

Desiree, wat aan die Hoërskool Driehoek gematrikuleer en later ‘n diploma in Informasiestelsels-ingenieurswese behaal het, was voor haar ongeluk in 2020 aan Kabouter Kampus Kleuterskool in Vanderbijlpark verbonde. Hier kon sy haar liefde vir kinders uitleef. Haar ander passie was motorfietsry.

“Ek kan nie presies onthou wat die dag van my ongeluk gebeur het nie. Ons was ‘n paar vriende wat op ‘n hoewe met ons Scramblers gaan ry het toe my motorfiets skielik vooroor geslaan het. Ek het op my kop geland en het dadelik geweet daar was groot fout. Ek is na die Unie-hospitaal in Alberton gevlieg, waar bevestig is dat ek my nek op vlakke C6 en C7 gebreek het. Ek was 32 dae in die hoësorg-eenheid en is as ‘n kwadrupleeg gediagnoseer. Na my opleiding in ‘n rehabilitasiesentrum het my ouers my voltyds in hul huis in Vanderbijlpark versorg,” sê Desiree.

Haar pad as kwadrupleeg was die afgelope vier jaar nie maklik nie, maar sy was dankbaar vir haar ouers se toegewyde sorg, en dat sy minstens die gebruik van haar regterhand se vingers herwin het. Sy het ook die effense gebruik van haar linkerhand teruggekry. Alles het relatief goed gegaan totdat sy op 31 Oktober die verpletterende nuus oor haar ouers se ongeluk gekry het.

“Hulle was die dag op pad huis toe nadat hulle my pa se bestuurslisensie in Sasolburg gaan afhaal het, toe ‘n trok op die R59 teen hul voertuig gebots het. ‘n Omstander het my minute later van my ma se foon af gekontak om my in kennis te stel. Ek het my pa se broer gevra om na die toneel te gaan – dieselfde kruising waar die sanger Zak van Niekerk jare terug gesterf het. My oom het my van daar af laat weet dat my pa reeds oorlede is en dat dit sleg lyk vir my ma. Sy is toe ook later oorlede,” sê Desiree. Haar ouers se gesamentlike groetdiens en lewensviering is op 8 November by AGS Dinamika in Vanderbijlpark gehou.

Hoewel Desiree nog verpletter voel, kyk sy dapper vorentoe. “Ek vat maar dag-vir-dag soos dit kom en berus daarin dat hulle saam na hul Hemelse huis is. Hulle was ‘highschool sweethearts’. Nie eers die dood kon hulle skei nie.”

Gelukkig was haar ouerhuis afbetaal en kan sy voorlopig daar aanbly. Sy het intussen ‘n voltydse helper, Bridget, gekry maar weet nog nie hoe sy op langtermyn haar salaris sal kan bekostig nie. Desiree ontvang tans ‘n Sassa-toelaag van R2 000 per maand en probeer dit aanvul met afstandswerk. Dié is egter maar skaars. Sy is baie rekenaarvaardig en behartig tans twee ondernemings se webwerwe met haar funksionerende regterhand. Die vergoeding is egter min en dek nie naastenby al haar uitgawes nie. Sakelui wat dalk nóg toepaslike afstandswerk vir Desiree het, kan Vaalweekblad by 083 246 0523 kontak om in aanraking met haar te kom.
Enigiemand wat Desiree met ‘n skenking wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan: D. VDWesthuizen, Capitec, Spaarrekening: 1858686936.

Die wrak van Cas en Siena van der Westhuizen se voertuig op die ongelukstoneel, 31 Oktober vanjaar. Foto: Ettienne van Rensburg.
Desiree van der Westhuizen voor haar ongeluk in 2020, wat haar verlam gelaat het.
Siena en Cas van der Westhuizen, wat onlangs saam in ‘n botsing in Sasolburg gesterf het. Hulle het reeds op skool ontmoet en was baie geheg aan mekaar.
Dié foto van Desiree en haar ouers is sowat twee jaar gelede geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button