Foto uitstalling lok groot belangstelling
Die Vereeniging Photographic Society se top 50 foto's het almal aan die praat gehad verlede Saterdag. Lees meer...
VEREENIGING – Dis nie aldag wat mens die geleentheid kry om foto’s van internasionaal erkende fotograwe te besigtig nie.

Die naweek het inkopiegangers by River Square weer dié voorreg gehad. Nie net kon hulle die top 50 foto’s van die Vereeniging Photographic Society (VPS) self aanskou nie, hulle kon ook vir hul gunsteling foto stem.
Leon Jacobs, ondervoorsitter van die VPS, sê dis lekker om hulle werk met ander te kan deel.
“Dalk inspireer ons voornemende fotograwe om ook bietjie uit ‘n ander hoek te kyk of met hul kamera se knoppies te speel.”

“Hier is twee tipes mense wat na die foto’s (meestal landskaptonele en diere) kyk. Die wat sug en sê ek wens ek kon daarheen gaan en die wat sê ek was al daar, ek wil weer gaan.”
Die omstanders het hulle verstom aan die pragtige foto’s. Een inkopieganger het dit mooi opgesom: “Die foto’s is amazing. Ek het eers gedink dis skilderye.”

Hierdie is die 16de jaar wat die VPS in die sentrum uitstal. Hulle het oor die 1 000 stemme vir die verskeie foto’s oor die twee dae gekry.
Uiteindelik het SunWa Sunset van Ursula Baumann gewen met Golden Evening van Sue Keartland en Kgalagadie Lioness van Martin van der Walt ‘n kortkop agter.

