Dapper Mieke (5) het hulp en gebed nodig
Mieke is 'n dapper 5-jarige wat ten spyte van volgehoue infeksies en pyn dit geniet om steeds met haar skoolmaats en boetie te speel. Lees meer...
VANDERBIJLPARK – Mieke Prinsloo is ‘n besige vyfjarige. Sy geniet skool en sien uit daarna om volgende jaar in graad R aan die Laerskool Eligwa te wees.
Ongelukkig is sy ook voortdurend in pyn weens blaasinfeksies en pyn in haar niere.
Haar ma, Ilse, sê daar is destyds tydens ‘n sonarondersoek toe sy swanger was gevind dat daar ‘n abnormaliteit is op een van Mieke se niere.

“Sy is in die staatshospitaal in Sasolburg gebore en hulle het toe gesê solank as wat sy piepie, sy okay sal wees,” onthou Ilse.
Vir die eerste paar jaar kon hul nie regtig agterkom dat daar fout is nie. Mieke het wel erge koors gekry en was op ‘n stadium vir vyf dae in die Kopanong Hospitaal weens koorsstuipe.
Daar is vermoed dat haar mangels die koors veroorsaak omdat dit deurgaans geswel was. Uiteindelik is die mangels in April vanjaar verwyder.
Die koorsaanvalle het egter voortgeduur en ‘n paar maande later het Mieke begin kla dat haar heup seer is.

Haar ouers het haar na die dokter geneem waar ‘n sonar gevind het dat die fout by haar niere lê.
Die een niertjie is totaal onderontwikkeld en die ander een te groot. Sy is na ‘n nefroloog in Alberton verwys waar verskeie toetse gedoen is. Daar is toe gevind dat sy graad 4 vesikoureterale refluks het.
Dit beteken dat die urine terugvloei na haar blaas toe en derhalwe ontsteking veroorsaak. Die spesialis vermoed dat haar een nier onherstelbaar beskadig is.
Die groot probleem is tans dat die blaas in spasma is en dat dit die nier wat al die werk doen negatief kan beïnvloed.
Haar ouers het gelukkig nou ‘n hospitaalplan, maar die fonds betaal nie vir al die toetse en behandelings nie.
Mieke is tans ook op baie duur medisyne waarvoor daar kontant betaal moet word.
Derhalwe het haar ouers begin om kolwyntjies te bak en te verkoop vir ekstra fondse. Haar ma het ook ‘n Back-a-Buddy rekening op Facebook begin.
“Ons bak en verkoop kolwyntjies na-ure want ek en my man het voltydse werk. Die geld wat ons kry uit die verkope gaan na ‘n spesiale spaarrekening wat ek oopgemaak het ten einde Mieke se mediese kostes te dek,” sê Ilse.
Intussen gaan die toetse op Mieke voort. Sy het 7 Desember vir urodynamic studies om te bepaal presies wat fout is met haar blaas en hoe dit herstel kan word.
Die studies word by ‘n hospitaal in Sandton gedoen. Mieke sal weer die nefroloog vroeg Januarie sien.
Bestellings vir die kolwyntjies kan geplaas word by 063 8414 946. Enige donasies kan deur https://www. backabuddy.co.za/campaign/miekeprinsloo gedoen word of direk in die spaarrekening inbetaal word.
Rekening besonderhede: Naam: Ilse Prinsloo Bank: Capitec Rekeningnommer: 2170661065 Verwysing: Mieke
“Ons as familie waardeer elke bietjie ondersteuning en hulp wat ons reeds tot dusver ontvang het,” sê Ilse wat trots is op Mieke wat elke toets op haar klein lyfie sonder enige trane deurstaan.
