SASOLBURG – Die AfriForum-tak in Sasolburg het ’n besige jaar agter die rug en het ’n groot verskil in die gemeenskap gemaak. Grassny, waarvoor dié tak veral bekend is, beloop tot dusver vir 2024 reeds 168 hektaar.
Dit is moontlik gemaak deur lede van die bestuur en taklede. Die koste van die grassnyprojek beloop ongeveer R42 000.
Daar is in totaal ook ’n oppervlakte van 10 hektaar skoongemaak, waar vullis opgetel en verwyder is.
Wat slaggate betref, is 203 sakkies teer gebruik om slaggate te vul. Dit beteken dat meer as vyf ton teer deur die tak in slaggate ingewerk is.
Die totale koste van die teerprojek beloop ongeveer R20 000.
Die tak steek ook gereeld ’n helpende hand uit na Van Riebeecksentrum. Gedurende hierdie jaar is daar ’n kollig, dakseëlaar en 40 liter wit verf aan die sentrum geskenk.
Die tak het ook ’n raam gebou vir ’n wasbak en dit alles vir hulle geïnstalleer. By die Seunshuis het die tak ’n watertenk geskuif en ’n pomp geïnstalleer.
Die tak het vanjaar ’n groot rol gespeel in die geveg teen die waterslaai en hiasinte in die Vaalrivier en het ’n bydrae daartoe gelewer dat dit onder beheer gebring is.
Ook in die teenstand teen die Wonderfontein-ontwikkeling is baie gedoen en daar is vroeg in volgende jaar ’n hofsaak daaroor omdat daar nie aan die nodige vereistes voldoen word nie.
Sedert Maart is daar elke laaste Saterdag van die maand ’n mark by Die Veiling gehou. Dit was elke keer ’n lekker kuiergeleentheid met oulike stalletjies.
Die tak neem getrou deel aan AfriForum se nasionale projekte en dien kommentaar op die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) in.
Die vullisterreinoudit is gedoen en die munisipaliteit is aangepraat oor die toestand daarvan, maar daar is nog nie positiewe resultate nie.
Daar is deelgeneem aan die blou-en-groendruppelprojek. Sasolburg se drinkwater is in ’n goeie toestand, maar daar is kommer oor riool wat in die spruite en uiteindelik in die Vaalrivier invloei.
Tydens boomplantmaand is drie swart kareebome by Die Veiling aangeplant.
Die takbestuur het AfriForum se drie-jaarlikse kongres in Klein Kariba bygewoon, waar die AfriForum-buurtwag in Sasolburg as die beste opkomende buurtwag aangewys is.
’n Groot strydros, Johan Cooks, wat vir meer as vyf jaar as voorsitter van die tak gedien het, het besluit om uit te tree.
Die gemeenskap van Sasolburg is groot dank aan Cooks verskuldig vir die leiding wat hy in die tak geneem het, maar hy word die rus gegun.
Sy opvolger is ’n bekwame jongman, Johan Hayward, wat ’n hart vir sy gemeenskap het. Hy word die beste toegewens.
“Ek kan nie anders as om groot dankbaarheid teenoor hierdie tak uit te spreek nie. Hulle is altyd besig en ontsien geen moeite vir hulle gemeenskap nie.
Dis ook ’n takbestuur met die grootste deernis vir mense wat beproewings ondervind en hulle stuur baie dikwels vir hierdie mense blomme of ’n omgeepakkie.
Ek hoop die gemeenskap sien dit raak en dat hulle ook sal aansluit by AfriForum se Sasolburg-tak om nog meer moontlik te maak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.
Hayward, die nuwe takvoorsitter van Sasolburg, bedank alle lede wat deel is van AfriForum. “
Dit is die lede wat ons help om ’n verskil te maak. Dié jaar was ’n moeilike ekonomiese jaar, maar ek het volle vertroue dat 2025 ’n jaar gaan wees met baie suksesse. As lede saamstaan, kan ons ’n verskil in ons dorp maak.”
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Kontak Hayward by 073 885 1365.