Local newsNewsNews

Gemeenskapsdiens is Jovan (16) se forte

Hy het so pas graad 10 agter die rug, maar die jongman glo daaraan om die lewe vir ander beter te maak.

VANDERBIJLPARK – Sy ma sê Jovan doen dit al van kleinsaf. Sien hy iemand in nood wil hy dadelik help.

“Hy het op laerskool al ekstra goed in sy tas rondgedra net ingeval daar ‘n maatjie was wat dalk iets kort,” vertel sy ma Maria de Lange.

Jovan (16) trek skouers op, hy weet nie hoekom het hy so ‘n sagte hart nie. Dis net hoe dit is.

So speel hy al jare Secret Santa en geniet dit om pakkies vir mense te los. Was vir hom baie erg toe hy lange jare terug gehoor het Kersvader bestaan nie regtig nie.

“Ek het sommer gehuil en my eerste vraag was, dan bestaan die tandmuis seker ook nie,” lag hy lekker.

Vlak voor hierdie jaar se eindeksamen het Jovan gehoor daar bejaardes by ouetehuise woon wie niemand besoek nie. Wie se kinders net nie meer kom kuier nie, of wie se familie in ander lande bly.

Die gedagte het sy hart gebreek en hy het besluit om iets te doen. “Die eerste keer wat ek Jeugland besoek het, was ek benoud,” erken hy. “Ek het nie geweet wat om te verwag nie.”

Skaars twee maande later en Jovan besoek die inwoners van Jeugland tehuis vir bejaardes ten minste twee keer per week. “Ek help hulle Dinsdae met Bingo en Vrydae met Flink Dink,” beduie hy entoesiasties.

In die proses het hy al van sy vriende, sy broers en die se vriende geïnspireer om ook betrokke te raak.

“Dis nie elke dag maklik nie. Sommige van die inwoners is regtig baie siek of ly aan dementia. Maar ek moet myself blootstel aan alles. Eendag wil ek ook medies gaan swot, soos my pa,” verklaar hy beslis.

Saam met die weeklikse besoeke het hy besluit om ‘n Kersfunksie vir die inwoners te reël. Daarvoor het hy hulp nodig gehad en hier het sy ma se lang kontaklys goed te pas gekom.

“Dit was ongelooflik hoe positief almal gereageer het. Ons het donasies, badkamerbenodighede en lekkergoed uit alle oorde gekry. Selfs van mense wat ons nie ken nie.”

Jovan beplan om met sy gemeenskapsprojek voort te gaan en het heelwat nuwe idees wat hy wil implementeer.

Die lekkerste vir hom is steeds om net tyd by die bejaardes te spandeer, na hul stories te luister en hul net te laat verstaan, hulle is nie alleen nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button