Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Onse jeug verbaas my al hoe meer

RUBRIEK - Dit was 'n knop-in-die-keel oggend. Ek het lanklaas soveel diensbaarheid en dankbaarheid op een plek beleef.

RUBRIEK – Stap ek nou die dag by ‘n plaaslike ouetehuis in. In die groot kamer sit by die 50 bejaardes. Die meeste met looprame. Hande kromgetrek. Dementia duidelik by van hulle te bespeur.

Wat my aandag trek is die groep jongelinge tussen 9 en 16 jaar. Ek weet die hele oggend is deur Jovan (16) gereël. Ek het verwag sy twee jonger boeties sal daar wees, maar die twee laerskool meisies en die drie ouer tieners?

Die verwelkoming is verby en die jongspan spring aan die werk om die oues van dae te bedien. Met groot konsentrasie word glase met koeldrank aangedra.

Bordjies met eetgoed gepak en uitgedeel. Van die ooms en tannies verkies koffie. Die konsentrasie word groter om bekers koffie aan te dra sonder mors.

“Ma, dit drip,” kom dit benoud van die 9-jarige Wihan. “Is ok. Jy doen goed,” moedig sy ma hom aan waar sy koffie maak.

‘n Jonge meisie mors per ongeluk ‘n glas koeldrank op die vloer. Haar ogies rek groot. “Dis niks. Ons maak ‘n plan,” en Jovan verdwyn om ‘n lap te gaan haal.

Die ander staan nie ‘n oomblik stil nie. Ek verstom my aan die kinders se goeie maniere. Die stil vriendelikheid waarmee hul die ooms en tannies help.

“Wat van die tannies wat nie kon onder toe kom nie?” raak hulle bekommerd. “Julle kan die trollie vat en gaan kos uitdeel as julle wil?” beduie Katinka die bestuurder.

Hulle laat hul nie tweemaal nooi nie. Die trollie is in ‘n japtrap gelaai en daar gaan hulle.

“Ma, waar is Jovan? Ek voel soos ‘n waitress,” kom dit van Janko. Hy is volgende jaar in graad 6. Hy het ‘n Kersfeesbril op. Sy oë blink. Hy geniet duidelik die oggend.

“Ek is so trots op jou,” sê sy ma. Hy straal. “Ek hou hiervan,” en dan spring hy weer weg om verder te help.

Later deel hul die geskenkpakkies uit. Dra glase en bordjies terug. Help die inwoners om op te staan.

My hart swel van trots en dankbaarheid. Dis jongelinge soos hierdie wat my hoop vir die toekoms gee. Hulle kon rustig by die huis gewees het. Maar, hulle het gekies om met oorgawe die dag vir bejaardes spesiaal te maak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button