Local newsNewsNews

Bederfoggend vir Jeugland inwoners

Dit was 'n lekker kuier en bederfoggend vir die inwoners van Jeugland

VANDERBIJLPARK – Die inwoners van Jeugland Tehuis vir Bejaardes het verlede Dinsdag ‘n onverwagse voorsmakie van Kersfees gehad.

Om 10:00 het sowat 50 van die inwoners in die groot sitkamer neffens die eetsaal vergader. Die tafels was feestelik gedek met onder andere gevulde vetkoekies, tuisgebakte kolwyntjies en koekies.

Sannie van Graan en Vredelina Dreyer het die oggend baie geniet. Agter hulle sit Martie Thomas. Tannie Vredelina sê sy is kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog gebore en daarom is sy Vredelina gedoop. “My man het altyd gesê my ma moes my eintlik Oorlog genoem het,” lag sy. Foto’s: Gerda Bruinette

Die sytafel het gekruin onder verskeie pakkies, oorlaai met allerande lekkernye en badkamer benodighede.

Jovan de Lange, wat volgende jaar in graad 11 is, het almal welkom geheet met ‘n sterk boodskap. “Julle is nooit alleen nie.”

Die hele oggend was sy breinkind en hy het met die hulp van sy ma, broers en vriende alles georganiseer.

Debbie en Marius is jarelange inwoners van Jeugland. Hulle sal 9 Februarie al ‘n jaar verloof wees.

Na die verwelkoming het plaaslike kinderboek en roman skrywer, Felicia Snyman-Du Toit ‘n kort Kersfeesverhaal voorgelees, alvorens die jongspan die koeldrank en lekkernye uitgedeel het.

Die inwoners het so lekker geëet dat hulle gevra het om hul groot middagete eerder na aandete te skuif.

Terwyl daar geëet is, is Kersmusiek gespeel en tannie Helena het daarop aangedring om Ps. 23 te sing en die Onse Vader te bid.

Tannie Helena sing Die Here is my Herder (Ps. 23) vir almal teenwoordig.

Nadat elkeen hul pakkies gekry het en nog ‘n laaste koekie of twee geëet het, is almal met groot glimlagte terug na hul kamers.

Marileen du Plessis en Mieke van Tonder was deel van die span jongelinge wat gehelp het om kos, pakkies en koeldrank uit te deel.

Jovanhulle het ook seker gemaak om pakkies en eetgoed na die inwoners op die boonste vloere te neem wat nie die verrigtinge kon bywoon nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button