Tweeling neem die leisels by D.F. Malherbe oor
Dis nie alle skole wat kan spog met 'n tweeling as hoofseun en hoofdogter nie. Maak nader kennis met Laerskool D.F Malherbe se hoofleiers vir 2025.
VANDERBIJLPARK – Kjelt en Caylyn Vanvinkenroye is soos vinkel en koljander, soek jy die een, dan vind jy die ander. Die tweeling is onafskeidbaar en mekaar se beste vriende.
Albei is kranige atlete, akademiese sterre en toon sterk leierseienskappe. Geen wonder hulle is so pas aangewys as hoofseun en hoofdogter van die Laerskool D.F. Malherbe vir 2025 nie.
Die twee sien uit na hul leierskapsjaar. Kjelt reken hy moet sommer oor die vakansie al aan sy eerste toespraak begin werk.
Caylyn lag net, sy reken hulle is slaggereed vir al die nuwe verantwoordelikhede. Albei is goed in redenaars en geniet wiskunde.
Eintlik is al die vakke vir hulle lekker. Naas naellope geniet Kjelt sy rugby baie en speel ook hokkie, terwyl Caylyn baie van netbal en hokkie hou.
“Ons doen alles saam. Huil saam en lag saam,” vertel Caylyn. “Ek hou net meer van die buitelewe as sy,” sê Kjelt wat op sy gelukkigste is as hy buite kan woel, terwyl Caylyn dit geniet om met ‘n goeie storieboek of film te ontspan.
Hulle harte trek met ‘n punt Transvalia toe vir hul hoërskoolloopbane en daarna wil Kjelt graag ‘n elektriese of meganiese ingenieur word.
Caylyn wil ‘n wiskundige navorser word, “vir ‘n plek soos NASA.” Dis toekomsdrome, vir nou gaan hulle eers die lang Desembervakansie saam met hul ouers geniet en dan gaan hulle seker maak graad sewe is hul beste jaar ooit.
