Ons Matriekafskeid koningin vir 2024 is…
Vaalweekblad se The Incredibles 2024 Matriekafskeid-kompetisie het baie aandag getrek. Hier is die wenner van die meisies.
VANDERBIJLPARK – Sy het ‘n glimlag wat êrens van binne af na buite straal. Abigail Evitts sprankel. Gek oor haar honde en haar pa se budgies.
Haar lewenslus en energie is aanvoelbaar. Moeilik om te beskryf. Sy is net van nature vriendelik, asof sy die hele wêreld ‘n drukkie wil gee en dit ‘n beter plek maak.
Die mense wat vir haar gestem het in Vaalweekblad se Matriekafskeidkompetisie stem saam.
Lin Jenkins se kommentaar lees: “Abigail Evitts is a stunning girl, inside and out,” terwyl Annie Swart dit mooi opgesom het met “Stralende gesiggie en baie rein hart. Seënwense.”
“Jy’s beautiful van binne en buite,” was Tina Theunissen se boodskap.
Abigail het by verre die meeste stemme in die kompetisie verower. Oor hoekom sy ingeskryf het, trek sy net skouers op.
“Mamma het my gehelp en ek het net gedink, ek gaan kyk wat gebeur. Ek het niks om te verloor nie.”
Die idee vir haar matriekafskeidrok het sy reeds in graad 8 gekry. “Ek as ek eers ‘n besluit gemaak het, hou ek daarby,” vertel sy.
Deursettingsvermoë het hierdie slimkop baie van. Sy het haar matriekjaar met ‘n plan van aksie aangepak.
“Ek het vroeg al begin hard leer. Die geheim is om ou vraestelle uit te werk. Dit het goed gegaan in die eindeksamen,” glimlag sy tevrede.
Volgende jaar gaan sy onderwys aanlyn studeer en terselfdertyd as onderwysassistent by Laerskool Kollegepark diens doen.
“Ek gaan grondslagfase studeer en gaan volgende jaar by die Graad RR-klassie begin.” Om vir graad R-3’s skool te hou is ‘n droom wat sy al vir jare koester.
Sy is dankbaar en bly oor die geleentheid om juis by Kollegepark te werk. “Ek was self daar op skool en ken Mnr. Coenie Herbst baie goed.”
Abigail is ‘n landloopatleet wat al sedert graad 4 aan langafstande deelneem. “Ons begin mos maar almal met die 1200m.
Ek het nog nooit ophou hardloop nie en neem steeds aan klub landloop deel.” Sy lag lekker by die gedagte dat sy dalk eendag die Comrades Marathon soos Mnr. Coenie kan kafdraf.
Nie ‘n gedagte wat haar afskrik nie, en as Abigail eers ‘n besluit geneem het, wel dan voer sy dit uit.
