Rukwinde laat talle ou bome in Vanderbijlpark val
Inwoners versoek die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit om ou straatbome wat al half-dood is weens ouderdom of termiet-infestasies, te kom afkap omdat dit tot lewensverlies kan lei as dit gedurende 'n windstorm op 'n mens val.
Gedeeltes van Vanderbijlpark het die afgelope week minstens twee keer onder hewige rukwinde deurgeloop. Verskeie straatbome is verlede Woensdagaand in CE1 ontwortel, of swaar takke is weens die wind afgebreek en het die strate en sypaadjies volgelê.
‘n Paar inwoners het laat weet dat hulle in hul erwe vasgekeer was omdat dik boomstompe en swaar takke in hul opritte gelê het en hulle nie met hul voertuie oor of om dit kon ry nie. In nog ‘n geval het ‘n straatboom ‘n pallisade platgeval en ‘n deel van ‘n boomstam het ook in Buddstraat op ‘n huis se dak geval.
Gisteraand (16 Desember) het Vanderbijlpark weer ‘n kwaai elektriese storm beleef, wat met reën en kwaai wind gepaard gegaan het. ‘n Groot boom is in SW5 omgewaai en verskeie ander bome se swaar takke is deur die wind afgeskeur.
Inwoners van veral CE1 laat weet dat hulle bekommerd is oor die talle ou straatbome wat nog net op genade staan omdat groot dele daarvan al dood is of deur termiete oorgeneem is. Inwoners versoek die Emfuleni Plaaslike Raad om sulke gehawende bome af te kap en te verwyder omdat dit tot lewensverlies kan lei as dit omwaai en op mense of voertuie beland.

Die foto’s hier onder toon bome wat weens verlede week se rukwinde in die slag gebly het. Dankie aan Nicky J. van Vuuren van Chilli PicNic wat die foto’s ingestuur het.





