Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Ek vra net tyd saam met hartsmense

RUBRIEK - Soms moet mens diep delf om die "krismis-gevoel" te kry en as dit nie werk nie, wel, dan's ek steeds dankbaar.

RUBRIEK – Desember die een maand van die jaar waar ons veronderstel is om happy-go-lucky op vakansie te wees. Kleurryke geskenke onder liggie-belaaide bome te bêre.

Naarstigtelik inkopies moet doen en na Jingle Bells moet luister.

Daar is Kersmarkte om elke hoek en draai. Terwyl elke advertensie en film op al wat ‘n kanaal is vertel van die Happy Holiday Season.

Die realiteit is dat nie almal gelukkig is in Desember nie.

Desember is ook die maand van hittegolwe in Suid-Afrika, van meer ongelukke op die paaie en waar geld wat Januarie vir kinders moet skoolklere koop op drank en vuurwerke geblaas word.

Bowenal is dit ook vir baie ‘n hartseer en alleen tyd. Klink ek te sinies? Te Scrooge of Grinch-erig vandag?

Dis dalk omdat my serebraal gestremde nefie oorlede is. Die een wat niemand gedink het vyf jaar oud sal word nie, is oorlede op 52.

Eintlik is ek dankbaar dat hy ‘n vol lewe gehad het. Dat hy ten spyte van so baie dinge so ‘n groot invloed op almal om hom gehad het.

Sy verstand het dalk êrens langs die pad vasgehak, maar ek en hy het mekaar goed verstaan. Ek is dankbaar hy is nou okay. Is wat ek glo.

Die hartseer sit. Vir almal wat hy agterlaat. Die een ding sneller mos maar die ander.

Elke keer as die dood kom klop, dan ruk dit maar weer verlange oop. Na Pa, Ouma Bessie, Kittie… Mense uit my verlede. Na Kersfeeste wat was.

Vanoggend stap ek by die kantoor in en skielik ruik ek dit. Vars drukkers ink. Soos wat Boksburg Printers altyd geruik het in die 70’s en 80’s.

Ouma Bessie het daar gewerk. Agter my lessenaar is die 2025 kalenders vars van die drukkers opgestapel. En ek dink, Ouma Bessie het kom hallo sê.

In die geharwar van die wille warm Desember, die verkeer, die krag wat alweer af is in ons area en die water wat uiteindelik weer aan is, het dit tog ‘n stukkie vrede gebring.

Ek byt nog nie aan die hele Happy Holidays, Merriieee Xmasss gevoel nie, maar ek hoop om die Desember, hetsy in persoon of oor die foon, tyd te hê saam met hartsmense.

Net weer die bekende stemme te hoor en, waar dit kan, in persoon saam te wees. Dis my enigste wens vir hierdie jaar. Mag jy liewe leser, dit ook hê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button