Geliefde ‘Biker Kersvader’ sterf kort voor Kersfees
Centurions Vaal se bekende Oom Katstert gaan deur 'bikers' sowel as die algemene publiek gemis word.
VANDERBIJLPARK. – Mnr. Johannes van Huyssteen, by baie bekend as Vanderbijlpark se “Biker Kersvader”, is op 20 Desember oorlede nadat sy gesondheid sedert 2019 stelselmatig agteruit gegaan het. Mnr. Van Huyssteen, wat goedig onder lede van die Centurions Vaal Motorfietsklub as Oom Katstert bekendgestaan het, was 15 jaar lank die klub se Kersvader tydens hul gewilde jaarlikse Toy Run projekte. Hy was ‘n lewenslange erelid van die klub.
Mnr. Van Huyssteen is in 1951 in Salisbury in die destydse Rhodesië gebore, waar hy grootgeword en skoolgegaan het. Hy het in 1981 na Suid-Afrika verhuis en hom in Vanderbijlpark gevestig. Hy het 20 jaar by Yskor (later ArcelorMittal) gewerk en was ook ‘n ruk lank aan Taxido Butchery verbonde.
Volgens me. Wilma van Druten, sekretaresse van Centurions MC Vaal, het hy in 2008 as lid by die klub aangesluit. Met sy uitgaande persoonlikheid en groot liefde vir mense was hy die ideale persoon om die rol van Kersvader te speel tydens die klub se jaarlikse Toy Runs. Tydens dié geleenthede word speelgoed en noodsaaklike lewensmiddele vir minderbevoorregte kinders ingesamel.
“Hy was lief daarvoor om met mense te gesels en grappe te maak. Ons sal hom altyd onthou as Oom Katstert, wat in sy gesonde jare altyd ‘n horing vol shooters gemaak en aan klublede uitgedeel het,” sê sy. Buiten om motorfiets te ry en by die klub se aktiwiteite betrokke te wees, het hy ook graag kos gemaak.
Hy word oorleef deur sy vrou, Marion, seun Eben, skoondogter Nikkie, twee kleinkinders en sy susters, Petro Viljoen en Maryna Marks. Sy gedenkdiens sal in Januarie gehou word.
So is sy afsterwe op 20 Desember 2024 op Facebook aangekondig:

So sal wyle Johannes van Huyssteen, oftewel die Vaaldriehoek se Toy Run Kersvader, onthou word:






Vaalweekblad se innige meegevoel aan sy familie, sy vriende en die lede van Centurions MC Vaal. Vaalweekblad-personeel het hom deur die jare leer ken as ‘n opregte mens met ‘n groot omgeehart. Hy het sy leefwêreld ‘n beter plek gemaak.
