MEYERTON – Wat veronderstel was om ‘n heerlike feesseisoen te wees, het in ‘n nagmerrie vir Pearl Mellet (12) en haar familie ontaard toe sy op 20 Desember erg in ‘n fratsongeluk beseer is.
Pearl, ‘n leerling aan die Laerskool Voorwaarts, het albei haar arms en bene in ‘n motorfietsongeluk gebreek.
Volgens haar stiefma, Jessica Mommen-Mellet, het Pearl met haar verjaarsdaggeld vir haar ‘n 125 cc pit bike gekoop en op hulle ruim erf in Boltonwold daarmee rondgery toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ons is nie presies seker wat gebeur het nie. Ons het net die motorfiets hoor ref en toe jaag sy vorentoe in die muur vas. Haar pa het agter haar aan gehardloop, maar was te stadig om haar te keer,” vertel Jessica.
Sy is Kopanong hospitaal toe geneem waar sy steke ontvang het en oorgeplaas is na Sebokeng hospitaal.
Volgens haar ma het hulle omstreeks 23:00 daardie aand by Sebokeng hospitaal aangekom, maar Pearl is eers 17:00 die volgende dag in ‘n saal opgeneem.

Haar ma het ‘n het BackaBuddy-profiel (https://www.backabuddy.co.za/campaign/better-health-care-for-pearl) oopgemaak aangesien hulle nie ‘n mediese fonds het nie. Hulle wou haar laat oorplaas na Midvaal hospitaal maar dit het nie gebeur nie.

Haar arms is eers Dinsdag, 24 Desember geopereer en sy moes twee bloedoortappings kry. Haar bene is Vrydag, 27 Desember geopereer.
“Ons weet nie wat aangaan nie. Ons kry geen terugvoering nie. Ons kry net toestemmingsvorms om te teken. Geen verduideliking. Ons weet nie of drade of penne in haar arms gesit is nie. As ons vir hulp of terugvoering vra word daar vir ons gesê: Jy is nie ‘n dokter nie jy hoef nie te weet nie,” vertel haar stiefma.
Haar bene het ‘n staalpenstelsel gekry wat deur die dokter gestel kan word, maar wanneer sy ontslaan gaan word bly ‘n raaisel.
“Ons is so deurmekaar. Ons kry geen terugvoering. Al wat ons weet is dat twee prosedures gedoen is. Een dag sê hulle sy gaan huis toe en die volgende moet sy bly. Die verpleegsters doen nie hulle rondtes nie. Ek moet heeltyd vra dat hulle haar katetersakkie moet leegmaak en haar pleisters ruil.”
“Sy huil met tye van die pyn terwyl die verpleegsters op hulle fone sit en speel. Sy het haarself nat gemaak omdat die kateter se pypie met die insit en uithaal gebreek is en toegeplak is eerder as om dit te vervang.”
Lerato Sedulawesi, woordvoerder van die Sebokeng hospitaal, is om kommentaar genader.
