Storm verjaag talle hengelaars by Vaaldam
Wind verniel vakansiegangers se toerusting maar talle verwelkom die reën
ORANJEVILLE. – ‘n Storm wat met hewige wind gepaard gegaan het, het verlede Sondag baie skade aan vakansiegangers se tente en ander kamptoerusting in Oranjeville aangerig. Talle het maar huis toe vertrek. Daar was laat die middag nog net enkele kampeerders rondom die Vaaldam in dié vakansiedorp te sien.
Volgens mnr. Wynand Horn het die storm omstreeks 13:30 die middag begin. “Dit het verwoesting gesaai vir baie mense – insluitend vir ons. Baie mense se tente is stukkend gewaai en voertuie het vasgeval. Alles het in minder as twee ure verspoel,” sê Wynand.
Hengelaar Dean Reichmann Grobbelaar sê hy ken daardie Oranjeville-storms baie goed. “In een week het ons drie sulke storms beleef… Ten minste het ons baie min gehad om op te pak want die wind het alles weggewaai, selfs ons aas!” Andele Snyders sê sy is jammer oor almal se skade maar terselfdertyd baie dankbaar vir die reën.
Intussen bly die watervlak van die Vaaldam steeds laag. Dit het gister (30 Desember 2024) op 24.9% gestaan. Suzette Bosman, ‘n oud-inwoner van Oranjeville, waarsku egter dat hengelaars versigtig moet wees aangesien die dam baie vinnig vol kan word as daar in ‘n kort tyd baie reën in die opvangsgebied val. “In 1986 het die Vaaldan binne twee weke 100% vol geword na goeie reëns. Hengelaars, wees maar versigtig… hou die damvlak dop,” is haar raad.
Donderweer en reën word weer vir vandag (31 Desember 2024) vir die Vaaldriehoekgebied voorspel. Hoewel dit nie ideale Oujaars-weer vir vakansiegangers is nie, verwelkom inwoners die koeler temperatuur en reën wat verligting bring na die afgelope weke se droë, warm dae.
Foto’s na verlede Sondag se storm oor die Vaaldam in Oranjeville is ingestuur deur Wynand Horn:



