Gestremde seun se lewe hang aan ‘n draadjie
WAARSKUWING BERIG BEVAT GRAFIESE FOTO'S WAT SENSITIEWE LESERS KAN ONTSTEL
VANDERBIJLPARK – Dwayne Pretorius (20), ‘n gestremde jong Vaaldriehoeker is in ‘n stryd om oorlewing gewikkel nadat hy op 26 Desember met inwendige bloeding na Sebokeng-hospitaal gehaas is.
Volgens sy ma, Valerie, benodig hy dringende mediese hulp om sy lewe te red.

“Hy het Kersdag begin sleg voel. Ons het hom vroeg in die bed gesit en gemonitor nadat hy klein bietjie bloed opgegooi het. Die middag van die 26ste was ‘n nagmerrie, iets verskrikliks. Sekondes nadat hy vir my gesê het hy is lighoofdig, het hy vreeslik baie bloed begin opgooi. Ons het hom skoongemaak en hospitaal toe gejaag.

“Ons het ure by Sebokeng-hospitaal gesit en niks hulp gekry nie. Al wat in daardie tydperk gebeur het, is dat ons ‘n lêer oopgemaak het,” vertel sy moedeloos.
Volgens Valerie het haar vriendin se ma vir ‘n konsultasie by ‘n privaatdokter betaal. Dwayne het voorheen as jong kind ook inwendig gebloei wat daartoe gelei het dat ‘n aar in sy slukkanaal afgebind is. Die privaatdokter het saamgestem dat dit in alle waarskynlikheid die einste afbinding is wat losgekom het.

Omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie kon daar nie verdere toetse gedoen word nie. Dwayne kon daarom ook nie opgeneem word vir die nodige behandeling nie.
Die plaaslike hospitale het ‘n minimum deposito van R10 000 verlang. Hulle het verskillende kwotasies by privaathospitale in die omgewing gekry wat gewissel het tussen R250 000 en R1m vir sy behandeling.
“My ouers bly in Klerksdorp en ek het met die hoop dat dit beter sou gaan dat Dwayne na Tshepong-hospitaal oorgeplaas word. Dit het net erger gegaan. Hulle gee hom bloed en trek bloed maar dit is dit. Hy lê al amper ‘n week in Klerksdorp.”
“Ons wil hom graag na Cormed in Vanderbijlpark laat oorplaas sodat hy goeie behandeling kry. Hy is baie swak en bitter uitgeput,” sê Valerie.
Valerie het ‘n Back a Buddy-veldtog vir Dwayne begin https://www.backabuddy.co.za/campaign/urgent-help-needed~2. Daar is reeds R20 000 vir hom ingesamel. Die oogmerk is om R300 000 vir sy behandeling in te win.
Desember inwendig begin bloei het.

