Vanderbijlpark se eerste baba is 80 jaar oud!
Hester Elizabeth Jacoba van Zyl is in 1944 in ‘n huis op die hoek van Stevenson- en Marconistraat in Vanderbijlpark gebore.
Vanderbijlparkers, het julle geweet dat mev. Hester Botha (gebore Van Zyl) 80 jaar gelede die heel eerste baba was wat in dié dorp gebore is?
Mev. Kobie Ströh, ‘n geskiedenisliefhebber van Vanderbijlpark, het onlangs ‘n onderhoud met Hester gevoer en hier is van die interessante inligting wat aan die lig gekom het:
Berig deur Kobie Ströh:
Op 7 Maart 1944 is Hester Elizabeth Jacoba van Zyl gebore in Vanderbijlpark in ‘n huis op die hoek van Stevenson- en Marconistraat.
Hester was die eerste baba wat in die nuwe staaldorp, Vanderbijlpark , gebore is. Die dae van dokters en hospitale het hier nog nie aangebreek nie en sy is om 10 uur “gevang” deur die vroedvrou Suster Nel. Op 2 Mei 1944 is die eerste seuntjie, Charlie Herbst, in Vanderbijlpark gebore. Hy het later ‘n bekende sakeman en burgemeester van die dorp geword.
Hester se pa Philippus Johannes van Zyl, gebore te Makwassie, was reeds 48 jaar oud toe sy gebore is. Haar ma, Susarah Johanna (Joe) de Swardt, is gebore op en het grootgeword op die familieplaas Kommetjiesdam, distrik Kroonstad. Die twee het mekaar in Vereeniging ontmoet, hulle het saam in ‘n fabriek gewerk wat ammunisie en bomme vervaardig het tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Op Kommetjiesdam lê kosbare en diep herinneringe aan Ouma Aletta Johanna Stefina Serfontein de Swardt en Oupa Stefanus Jansen Jacobus de Swardt. Ouma was ‘n formidabele vrou wat 4 kinders verloor het in die haglike omstandighede in die konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog. Die dapper Oupa het selfs skelm en ongesiens vir sy vrou in die konsentrasiekamp gaan kuier. Na die oorlog het sy teruggekeer na die afgebrande en verwoeste plaas en saam-saam het sy en Oupa weer die plaas met harde werk opgebou. Die egpaar het daarna nog ‘n handvol kinders in die lewe gebring.
Hester se sorgvrye kinderdae beleef sy in Vereeniging, Marklaan no 50. Laerskool Handhawer , Hoërskool Vereeniging en Hoër Handelskool Vereeniging is haar Alma Mater.
Hester was van kleins af ‘n “andersdenkende” kind met verligte sieninge en altyd vol vrae. So talentvol dat sy sommer kleintyd al haarself geleer het om klavier te speel. Musiek en klavier speel nog steeds ‘n groot rol in haar lewe. Hierdie gewilde dogtertjie was baie talentvol in voordrag en sang en haar eerste danslesse was in klopdanse deur die meester Russel Meister. ‘n Groot liefde vir dans nog steeds, tot op 80-jarige ouderdom.
Hester se droom om verpleegster te word is vinnig in die kiem gesmoor deur haar pa wat volstrek geweier het om toestemming vir opleiding te gee en gou-gou vir haar gereël het vir ‘n werk by VECOR. Hierdie werk was verrykend en Hester het floreer.
Geloof was altyd ‘n integrale deel van Hester se wese en op 12-jarige ouderdom het sy reeds in ‘n besonderse verhouding met haar Skepper en Verlosser geleef. Diepdenkend, ondersoekend en ‘n bidder.
Tydens ‘n kerkkoor-oefening wys Oom Jacobus Johannes Botha haar aan sy seun uit as sy aanstaande skoondogter. Tong in die kies vertel sy skoonpa het haar as’t ware gekies vir sy seun.
22 Februarie 1964 trou Hester met Petrus Casparus Botha (Piet), die man met die mooiste groen oë. Die egpaar verhuis na Randburg, later Welkom, terug na Randburg en eindig in Centurion.
Haar ma sterf kort na haar 21ste verjaarsdag en haar pa sterf net na die geboorte van haar eerste dogter, Jahna (1966). Nog twee dogters word gebore, Leane (1968) en Celeste (1971).
2007 word die sirkel voltooi toe die egpaar Botha terugkeer Vanderbijlpark toe. Piet Botha ( bynaam Spekies) het sy loopbaan by Yskor begin in die sestigerjare. In hierdie tyd het hy die rekenaarafdeling van YSKOR gevestig, hy was een van Yskor se eerste rekenaardeskundiges. Later het hy opgetree as opleidingsinstrukteur vir banke en sakeondernemings en het klas gegee by Maties se Besigheidskool.
Hulle trek in wyle skoonpa Jacobus Johannes Botha en skoonma Gertruida Anna Magdalena (Gerrie) se huis in Boylestraat, Vanderbijlpark in, ‘n huis wat hy reeds in 1959 gekoop het.
Hier oorleef hulle ‘n middernagtelike aanval in 2009, ‘n trauma wat hulle net met geloof kon verwerk. Hester getuig van die groot Wonderwerk en Beskerming toe die aanvaller nie in staat was om haar met ‘n graaf raak te slaan nie asof ‘n onsigbare Mag die aanvaller verwar en die houe verhoed het.
Piet se rekenaarmaatskappy se naam het deur die jare verskeie kere saam net nuwe omstandighede en uitdagings verander, elke keer ‘n naam met ‘n diep simboliese betekenis. OBED, Renaissance, Fusion ,TRANSFORMATION en finale naam The Botha Restoration Model (Pty) Ltd.
Piet sterf aan ‘n massiewe hartaanval en laat Hester alleen agter.
Sedertdien het Hester afgetree en geniet sy haar goue jare.
Hester glo elke mens is anders, elke mens is spesiaal.
Hester is ‘n positiewe mens, diep gelowig, dienaar van haar Redder.
Haar huis getuig dat sy ‘n diep mens is, ‘n kunsliefhebber, ‘n musiekliefhebber met ‘n besonderse liefde vir familie en geskiedenis.
Haar groot vrees is om te vlieg.
Hester spog met 3 kleinkinders, 2 dogters en 1 seun, en is geseënd met 3 pragtige en skrander agterkleindogters.
Die eerste baba van Vanderbijlpark het opgegroei en grootgeword saam met die dorp, maar het verseker in die laaste 80 jaar mooier, statiger, ryper en wyser as die dorp self geword.







Die skrywer van hierdie artikel, mev. Kobie Ströh, is ‘n geskiedenis- en kultuurliefhebber van Vanderbijlpark. Foto: Chilli PicNic
