Local newsNews

Sasolburgers, staal julself vir swaar reën en donderstorms!

Verkeersontwrigting word verwag, en inwoners van laagliggende gebiede moet voorsorg tref om vinnig te kan wegbeweeg in geval van oorstromings

Die Metsimaholo-munisipaliteit, wat Sasolburg, Zamdela, Vaalpark en omliggende gebiede insluit, het gister (6 Januarie 2025) ‘n amptelike waarskuwing uitgereik dat inwoners hul moet voorberei op verwagte swaar reën en donderstorms in die komende dae.
Die waarskuwing volg nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens Vlak Vyf- en Vlak Twee-waarskuwings uitgereik het vir binnelandse provinsies, insluitend die Vrystaat. Albei dié vlakke dui ‘n potensiële risiko vir gevaarlike weerstoestande aan.

Volgens Metsimaholo se waarskuwing sal oorstroomde paaie waarskynlik verkeer binne die munisipale gebied ontwrig, wat die risiko vir ongelukke en vertragings verhoog. Motoriste word aangeraai om spoed te verminder, ‘n veilige volgafstand te handhaaf en oorstroomde gebiede te vermy. Indien moontlik, parkeer voertuie onder beskutte gebiede om dit teen hael en vallende puin te beskerm. Vermy onnodige reise tydens swaar reënbuie.

Inwoners wat in laagliggende gebiede woon waar daar tydens swaar reën gereeld oorstromings is, moet voorsorgmaatreëls tref om hul huise en besittings te beskerm.
Die munisipaliteit doen ‘n dringende beroep op alle inwoners om waaksaam te bly en hul veiligheid eerste te stel. “Kom ons werk saam om lewens en eiendom te beskerm gedurende hierdie tydperk van ongunstige weerstoestande,” is Metsimaholo se versoek.

  • Metsimaholo se waarskuwing sal waarskynlik ook geld vir die suidelike deel van die Emfuleni-munisipale gebied en ander dele van die Vaaldriehoek. Vaalweekblad-lesers moet asseblief versigtig ry as julle tydens storms en reënweer op die pad gaan wees.

Foto’s onder: Donker wolke het reeds gistermiddag, 6 Januarie, oor Sasolburg en die suide van Vanderbijlpark saamgepak. Dit is die aand gevolg deur uitgebreide reën in die gebied. Die foto’s is geneem deur “stormjaer” June Harmse.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button