Drieling vir Driehoek
Laerskool Kollegepark sal hul altyd na aan die hart lê, maar nou is die drieling gereed vir 'n nuwe avontuur.
VANDERBIJLPARK – Die Bezuidenhout-drieling, Francois, Casey en Wynand gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. Volgende week word hul deel van die hartklop van die Hoërskool Driehoek.
Nie ‘n vreemde plek vir hulle nie, want hulle weet al presies wie rig watter span af. Die drie hou van hul sport. Francois geniet hokkie, Casey netbal en Wynand rugby.
Hy loer juis kort-kort op sy horlosie, want al het die skole nog nie begin nie, word daar al hard rugby geoefen.
Al waaroor die drie nog kopkrap is of hulle in dieselfde klas gaan wees.

“Dit sal baie vreemd wees as ons nie is nie,” sê Casey. “Moet tog nie jou pennesakkie vergeet nie,” deel sy raad uit vir Francois en “onthou ek sal nie met huiswerk kan help nie,” word Wynand meegedeel.
Vir ingeval hulle die keer nie saam gaan wees nie. Akademies staan al drie sterk, maar tans fokus die manne eerder op sport.
Casey weer sorg dat sy altyd hard leer, want die donkerkop het groot drome. “Ek is nog nie seker wat ek eendag gaan word nie, maar dit sal ‘n CA, dokter, advokaat of ingenieur wees. O ja, en ‘n SA netbalspeler.”
“Ek wil ryk word,” is Francois se enigste kommentaar op sy suster se baie drome.
Wynand wil eendag vir die Springbokke uitdraf en ‘n professionele rugbyspeler word, nes sy kleinneef RG Snyman.
“Het jy geweet RG is langer as Eben (Etzebeth)?” vra Casey en haar boeties knik bevestigend. Dis een ding waaroor hulle saamstem, dis goed om RG as kleinneef te hê.
Hulle is nie seker wat alles vir hul in die toekoms wag nie, behalwe “baie huiswerk”, maar hulle sien uit daarna om hul nuwe skool op verskeie sportvelde te verteenwoordig.
