Jong pa se verdriet, mis baba se geboorte na ongeluk
Wag al weke vir operasie om gebreekte heup te herstel. Hy het ook nog nie sy nuut gebore babaseuntjie gesien nie.
VANDERBIJLPARK – Liam Jacobs (28) sit in sak en as nadat hy weens ‘n ernstige ongeluk die geboorte van sy babaseuntjie gemis het en al meer as ‘n maand in ‘n staatshospitaal vir ‘n heupoperasie wag.
Liam is 9 Desember op pad werk toe in ‘n ongeluk betrokke toe ‘n taxi wat passasiers afgelaai het skielik voor sy motorfiets ingedraai het.
Hy het sy heup gebreek en is in die Sebokeng-hospitaal opgeneem. Hy is 8 Januarie na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.


Liam en sy vrou Juanita se babaseuntjie, Chandro, is op 21 Desember gebore. Liam is egter tot nou toe nog nie toegelaat om sy pienkvoet te sien nie.

Hy het ‘n sesjarige dogtertjie, Madison oor wie hy homself ook ontferm.
Volgens sy tannie, Mariëtte Schlebusch, is daar ‘n Back-a Buddy-veldtog (https://www.backabuddy.co.za/campaign/liam-operation) gestig met die doel om hom na ‘n privaathospitaal oorgeplaas te kry.
Die privaathospitale in die Vaaldriehoek vra tussen R100 000 en R150 000 deposito vir opname en kostes kan tot R350 000 styg.
“Sy vrou is met kraamverlof en verdien nie werklik ‘n inkomste nie. Hy is al meer as ‘n maand met siekverlof en is bekommerd oor sy werk en inkomste. Ons doen ‘n beroep op julle met goeie harte om enige bedrag, maak nie saak hoe klein of groot nie, by te dra sodat hulle hul huur kan betaal en darem kos en ander benodighede kan koop vir die twee kinders en hulself.


Baie dankie aan elkeen wat al bygedra het en nog gaan,” het Mariette gesê.
In ‘n mistroostige stempos wat hy aan sy familie gestuur het vertel Liam dat daar nou sprake is dat hy nie geopereer gaan word nie, maar vir observasie gehou gaan word.
Daar heers nou kommer dat die heup skeef kan aangroei.
