Ondanks oogprobleme skyn Johandré se musiektalent helder
'Ek dank die Here vir die gawe wat Hy my gegee het om musiek te kan maak en te kan sing. Ek sal dit vir niks verruil nie. '

In ‘n wêreld waar fisiese beperkings talle gestremdes daarvan weerhou om hul drome te bereik, staan Johandré Steyn uit as ‘n baken van hoop en veerkragtigheid. Dié jong musikant, gebore met ernstige sigprobleme, het sy hindernisse in harmonieë omskep: Danksy sy musiektalent en deursettingsvermoë het hy homself geleer om klaviere te stem en sodoende ‘n bestaan uit sy passie te maak.
Johandré, wat op 10 Januarie 23 geword het, is in die Vaaldriehoek gebore en het weens sy sigprobleem aan ‘n spesiale skool, Wings For Life, skoolgegaan en sy akademiese opleiding aan Alpha Education voltooi. In 2023 het hy ook ‘n kursus in traumaberading by Deo Credo Familiekerk voltooi.
Hoewel hy van kleins-af die ritme van musiek in sy are voel pols het, het sy passie in alle erns begin toe sy ouers op sy 14de verjaardag ‘n kitaar vir hom gee. ‘n Duitse musiekleermeester van die Lutherse Gemeente, wat ook by Wings For Life betrokke was, het vrywillig ingestem om vir Johandré lesse aan te bied. Binne net vier maande kon Johandré pragtig kitaar speel en hy is ook baie vaardig op die klavier en orrel.
“Ek kan glad nie musieknote lees nie en speel op gehoor. Sodra ‘n lied begin speel, kan ek dit binne ‘n paar minute op die kitaar of klavier speel. In 2017 het ek vir die Lutherse Gemeente begin speel en sedert 2023 het ek ook die voorreg om El-Shammah Gemeente (Kerk van die Nasarener) se musiek te lei.
“Omdat ek ‘n baie goeie gehoor het vir musiek, het mense gesê ek moet klaviere gaan stem. Ek het nie vervoer en finansies gehad om in Pretoria daarvoor te gaan studeer nie, maar my Duitse leermeester het my gehelp om video’s op YouTube te kry om myself te leer stem. Ek het eers vir ‘n paar maande op my eie klavier geoefen voordat ek ander se klaviere by hul huise begin stem het,” sé Johandré.
As ‘n klavier lanklaas gestem is, kan dit soms ‘n uitdaging wees om die klank weer reg te kry. Dit moet soms tot vyf keer gestem word om perfek te wees, sê Johandré. Geen moeite is egter vir hom te veel nie. Die positiewe terugvoer wat hy van tevrede kliënte kry, maak deeglik op daarvoor.
“My raad aan mense wat klaviere het is om dit mooi op te pas, maak dit gereeld skoon en maak seker hy word elke jaar gestem. Laat jou klavier staan waar dit veilig is en vermy daklekke want jou klavier kan deur water beskadig word. As jy trek, laat vervoer jou klavier versigtig en kry genoeg mense om te help dra want ‘n klavier is vrek swaar.
“Ek verkies tradisionele klaviere bo die moderne elektroniese soort want op ‘n tradisionele klavier speel jy op gevoel en uit jou hart uit. Jy kan byvoorbeeld met die krag in jou hande beheer hoe hard en sag jy wil speel. Op elektroniese klaviere ongelukkig nie. Daar druk jy net knoppies om jou klank en ander funksies wat jy by wil byvoeg, te verstel.
“Ek kan die hele dag oor musiek gesels,” sê Johandré. Christelike musiek is sy gunsteling, maar hy hou ook baie van Boeremusiek en Country, Afrikaans sowel as Engels.
Hy is tans besig om ‘n CD te laat opneem by Eagle’s Wings Recording Studio in Vanderbijlpark en beplan om vanjaar te begin met sy studies om ‘n dominee te word.
“Ek dank die Here vir die gawe wat Hy my gegee het om musiek te kan maak en te kan sing. Ek sal dit vir niks verruil nie. “Ek wil graag dankie sê vir die mense wat in my lewe is en my bystaan en ondersteun. Ek dank die Here dat Hy my geseën het met elke persoon wat ‘n verskil in my lewe maak. Dankie dat julle ‘n goeie voorbeeld is vir my en ek is dankbaar vir alles wat julle vir my doen. Die Here seën julle.”


* Belangstellendes wat meer oor Johandré se klavierstemmery wil uitvind, kan hom kontak by 071 008 8068.