Wat onthou jy van jou eerste skooldag?
Aan wie behoort hierdie oulike gesiggies? Klik op die skakel en vind uit.
VANDERBIJLPARK – Die nuwe skooljaar is om die draai en dwarsoor die land maak graad eentjies reg om die groot skool aan te durf.
Dit sal dalk vir hul moeilik wees om te glo, maar hulle onderwysers en skoolhoofde was ook op hul dag in graad een.
Vaalweekblad het gaan uitvis wat vandag se onderwyskorps van hul eerste dag onthou.
Laerskool Noordhoek se hoof Annelie Herbst (née Wilken) onthou sy moes met haar hande op ‘n maatjie se skouers staan in ‘n ry voor klasse.

Coenie Herbst, tans skoolhoof by Laerskool Kollegepark, sê hy was in Viljoensdrif laerskool. “Ek moes bus ry van dag een af. Dit was erg maar ek het darem ‘n oulike juffrou gehad.”

D.F. Malherbe se hoof Willem Botha sê: “Al wat ek van my eerste dag kan onthou, was dat ek by my juffrou (juffrou Neetlingh) se tafel moes sit, want daar was nie vir my ‘n bank nie.
“Ons moes met vetkruit ‘n groot roos teken (‘n spiraal wat in die middel van die bladsy begin het). Ek het in graad een my arm gebreek, maar darem nie by die skool nie.”

Franz Geldenhuys, bekende koormeester en musiekonderwyser by Hoërskool Vaalpark het laat weet hy was in Laerskool Kollegepark.
“My eerste dag kon ek nie wag vir pouse nie, ek was mal oor ‘n broodjie met Marmite op wat my ma vir my ingepak het.”
