Solarstel-battery ontplof: Vanderbijl-gesin spring dood vry
VANDERBIJLPARK - "Dit was soos 'n bom wat in ons huis afgegaan het. Tot die dak het gelig."
So vertel Jacques Venter (36) oor dié fratsongeluk Vrydagaand, 3 Januarie by hul woning in Fordstraat, CW 6.
Jacques, sy vrou Angelique, hul seun Kyle (18) en vyf ander gaste – onder ander Jacques se ouers Johan (61) en Annet Venter (62) – wat die aand daar gekuier het, is beseer.
Party was gelukkig om net ligte beserings (soos geringe brandwonde en geskroeide hare) op te doen, terwyl ander meer ernstige brandwonde opgedoen het.



Hul goeie vriend Philip Groenwald (50) het egter die slegste daarvan afgekom en ernstige brandwonde oor groot dele van sy rug, arms en bene opgedoen.
Jacques en Philip moes sedert die voorval verskeie behandelings ontvang sodat die brandwonde geskrop kan word.
Die groep vriende en familie het die aand gesellig saam gekuier om die Veerpyltjie Wêreldkampioenskap op televisie te kyk.
“Ons het iets gehoor wat soos klappers klink en buite gaan kyk, maar niks gesien nie,” vertel Jacques.
Kort daarna, omstreeks 23:15 het Angelique om hulp geskree toe sy rook in een van die spaarkamers gewaar.
By nadere ondersoek het Jacques gevind dat dit die lithium battery van ‘n solarkrag-stelsel was wat al die rook veroorsaak.
Dié battery was ongekoppel en word reeds die afgelope jaar en vier maande in die kamer gestoor.
Terwyl die battery klapgeluide maak, het Jacques en Kyle gedink om die battery uit die huis te verwyder.
Die rook was egter so erg dat hulle niks in die kamer kon sien nie, en gesukkel het om asem te haal.
Hulle het besluit om eerder die kamer te verlaat en was skaars twee meter buite die deur toe die battery ontplof.
Dit was toe dat almal wat op die daardie stadium in die gang was brandwonde opgedoen het.

Volgens kenners veroorsaak daardie grootte battery ‘n ontploffing gelykstaande aan tussen 200 en 500 gram TNT plofstof.
Behalwe vir die dak en plaffonne, het vensters en selfs meubels in die slag gebly. Die skade word darem deur hul versekering gedek.
Vinnige optrede deur die buurtwag, die brandweer en ander inwoners het verhoed dat die huis verdere brandskade opgedoen het.
Die Venters bly tans by die Groenewalds totdat herstelwerk aan hul woning afgehandel is.
“Die solarverskaffers het aan ons verduidelik dat die ontploffing deur chemiese agteruitgang veroorsaak is. Die kanse dat so iets gebeur is glo een uit ‘n miljoen. Maar dit het mens se oë laat oopgaan en ek wil mense waarsku dat so iets wel kan gebeur,” sê Jacques.
“In kort is die beste wat jy kan doen as so ‘n battery begin klap en rook, om so ver as moontlik van hom af weg te kom. Om water daarop te gooi sou die battery steeds laat ontplof,” sluit Jacques af.
Lees gerus die berig: Tips for storing lithium batteries, op Vaalweekblad se webblad.

