Ek sê maar net… Liewe 2025, ken jou plek!
RUBRIEK - Sjoe, ek wou nog dit en dat doen, toe knip ek my oë en 'n maand is verby.

RUBRIEK – Ons het 2024 by die kantoor afgesluit met ‘n braai. Twee van die manne het gesweet langs die vuur en die res van ons het onder die afdakke gekuier.
Dit was lekker. Voor ons het drie weke se verlof gestrek. Ek het lang lysies gemaak oor wat ek alles in drie weke gaan vermag.
Van boeke lees tot my antieke tikmasjien skoonmaak en boekrakke regpak. Helaas, die een dag het ek nog verklaar dit voel nog nie vir my of dit amper Kersfees kan wees nie en die volgende oomblik het die buurt ontplof met vuurwerkbomme en blaffende honde.
Daar is twee weke van die Nuwejaar verby en van my lysies het niks gekom nie. Ek onthou ‘n uiteet saam met Ma en ‘n date night saam met Johan. Daar was ‘n herdenkingsdiens-braai in Brakpan vir my oorlede neef.
Vir die res? Ek weet nie. Die dae het gevlieg sonder dat ek regtig kan sê wat ek gedoen het. Dis verby. ‘n Hele Desember. Ek het drie weke by my laat verbygaan.
Elke dag opgestaan, aangegaan, die nodige gedoen, maar nie bewustelik geleef nie. Dis nie net hartseer nie, maar ook skrikwekkend.
Ek onthou as kind hoe die ouer mense gesê het die tyd gaan te gou verby. Ek het gedink dis onmoontlik. My jare was verdeel in termyne met klasse, toetse en eksamens.
Langs my volwasse lewenspad het jare ineen begin vloei. Elke dag het net nog ‘n dag geword. ‘n Mens gaan net aan waar die vorige een opgehou het. Dit werk nie meer vir my nie.
Ek was nog nooit een vir Nuwejaarsvoornemens nie. Tog voel ek die jaar is anders. 2025 is meer as net nog ‘n jaar. Dis die begin van die tweede helfte van die 2020’s.
Ek het al met verskeie mense gesels en moed geskep. Dis asof almal weer begin kop oplig en skouers reguit trek.
Omstandighede, die ekonomie, gesondheidsprobleme is nog dieselfde, maar een ding is verseker, 2025 word vasberade en met hoop ingegaan.
En ek? Ek vat elke dag soos dit kom. Dankbaar en met groter bewustheid om in die oomblik te leef en die mense om my te waardeer.