Skool toe en terug: Hou veiligheid in gedagte
Die nuwe akademiese jaar skop môre (Woensdag, 15 Januarie) af en Vaalweekblad wens alle leerders die beste vir die nuwe jaar toe. Hier is wenke om kinders se veiligheid skool toe en terug te verseker.

Dit is belangrik dat ouers verseker is oor hul kinders se veiligheid op pad skool toe en terug.
“Dit kom daarop neer om seker te maak dat jou kinders presies weet hoe om moontlike gevaar te vermy, en wat hulle moet doen as iets sleg met hulle gebeur,” sê Charnel Hattingh, Groephoof van Kommunikasie en Bemarking by die Fidelity Services Group.
Haar raad aan ouers is:
* Maak seker dat jou kinders weet jy sal nooit iemand stuur wat hulle nie ken om hulle te kom haal nie.
* Hulle moet nooit in ‘n vreemdeling se motor klim nie, selfs al beweer hulle die persoon dat iemand wie hul liefhet beseer is nie. Dit is ‘n goeie idee om ‘n wagwoord-stelsel te oorweeg om die persoon wat kinders kom haal te bevestig.
* Kinders moet altyd saam met ‘n vriend of vriende skool toe of van die skool af loop. Sommige dorpe het “loopbusse” begin, waar ouers saam met ‘n groep skoolkinders skool toe en van die skool af loop om hul veiligheid te verseker.
* Hou by strate wat jy ken en moenie kortpaaie deur onbekende of stil areas neem nie.
* Maak seker kinders wag altyd binne die terrein vir jou kar om te arriveer.
“As kinders na skool vir ‘n wyle alleen tuis is terwyl oues nog werk, is dit belangrik dat hulle weet om niemand in die huis toe te laat sonder hul ouers se toestemming nie.
“As jy gaan laat wees, laat jou kinders so gou as moontlik weet en gee hulle ‘n idee wanneer hulle kan verwag dat jy tuis sal wees,” sê Hattingh.
Sy stel ook voor om ‘n lys van belangrike telefoonnommers op te stel.
“Hierdie lys moet nooddienste, ma en pa se werk- en selfoonnommers insluit. Stoor dit op jou kind se foon en plak dit op of naby ‘n landlyn.
“Dit is ook belangrik om aan kinders te verduidelik wanneer hierdie noodnommers gebruik moet word,” beklemtoon Hattingh.
Sy sluit af met die raad dat almal in die huis moet weet hoe om die alarmstelsel te gebruik, veral ook hoe om die paniekknoppoe te gebruik.
